Pretoria se SPAR vrouewedloop kry nuwe kampioen
’n Pienk golf van meer as 25 000 atlete het Saterdagmiddag weer die strate van Centurion opgehelder én tot stilstand gebring tydens die jaarlikse SPAR vrouewedloop.
Die SPAR vrouewedloop in Pretoria, wat Saterdagmiddag weer in Centurion afgehandel is, het al ’n sportgeleentheid geword wat in menige opsigte met ’n rugbytoets op Loftus Versfeld of ’n internasionale eendag-krietekwedstryd op SuperSport Park vergelyk kan word.
Die 2015 weergawe van dié gewilde padwedloop – die grootste padwedloop in Suid-Afrika – was geen uitsondering nie. Sowat 25 000 vroue (en mans vermom as vroue…) het reeds kort na 11:00 by dié krieketstadion begin saamdrom. Kort voor 14:00 was daar bittermin beweegruimte rondom die twee wegspringplekke, waar die 10km wedloop en die 5km pretdraf in verskillende rigtings sou begin.
Die strate rondom SuperSport Park is hierdie jaar weer in die oorspronklike kleur van vroulikheid – pienk – gekleur toe deelnemers gereedgemaak het vir die wegspring in hul pienk T-hemde. Terwyl duisende ondersteuners en toeskouers langs die roete die deelnemers aangemoedig het, het ’n groot groep toeskouers ook solank op die paviljoen in die stadion hul plekke ingeneem. Hulle was gereed om die supersterre van die wedloop, die top atlete, in die stadion te verwelkom.
Soos genoem is die roetes weer vanjaar geskei. Deelnemers aan die 10km wedloop het presies om 14:00 in ’n noord-westelike rigting begin hardloop, nadat hulle in Suidstraat voor die Centurion rugbyklub se hek weggespring het.
Intussen het die deelnemers aan die 5km pretdraf in Wesstraat naby die oostelike ingang van SuperSport Park weggespring om hulle roete in ’n noord-oostelike rigting te begin.
Na maande se beplanning en baie harde werk op die dag van die wedloop kan die organiseerders beslis weer ’n reuse pluimpie kry. Hierdie wedloop word jaarliks beter.
Die stryd tussen die top atlete was weer besonder straf, want ’n paar van hulle het nog ’n kans gestaan om as kampioen gekroon te word in die SPAR Grand Prix (die kombinasie van al die SPAR vrouewedlope landwyd).
Dit was vooraf ’n gegewe dat ’n nuwe plaaslike kampioen gekroon sou word, aangesien Irvette van Zyl, verlede jaar se wenner in Centurion, tans in ’n gevorderde stadium van swangerskap is met haar en haar man, die Olimpiese atleet, LJ, se eersteling.
Uiteindelik was dit Rutendo Nuyahora (Nedbank) wat die lint gebreek het om die wedloop te wen. Die Phalula-susters, Lebo (tweede) en Lebogang.
Pretoria se twee Comrades sterre, Charné Bosman was albei onder die top tien.
