Blou Bulle weerstaan kwaai aanslag van Cheetahs
Die Blou Bulle het Vrydagaand op Loftus Versfeld ’n oorywerige skeidsregter, ’n gedetermineerde span van die Cheetahs en ongure weerstoestande oorleef om hul vyfde agtereenvolgende oorwinning in die Curriebekerreeks te behaal.
Die Cheetahs het Vrydagaand duidelik na Loftus Versfeld opgeruk om wraak te neem ná die groot pakslae wat hulle sowat ’n maand gelede in Bloemfontein gekry het.
Uiteindelik kon die Blou Bulle egter daarin slaag om vas te byt en ’n klipharde tweestryd met 24-17 te wen.
Die Cheetahs het die wedstryd teen ’n reuse tempo begin en die Bulle was vir byna ’n kwartier onder groot druk. Hul verdediging is ordentlik beproef, maar dit het gehou en by die eerste werklike geleentheid wat hulle gekry het, het die vaardige en vinnige agterspelers van die tuisspan gesorg vir die eerste drie van die wedstyd. Burger Odendaal het ’n bewegingvan 70 meter in die linkerhoek afgerond.
Na twee strafdoele van Tian Schoeman was die Blou Bulle gerieflik voor (11-0) op die telbord. Hulle het dit egter laat glip toe Rayno Benjamin kort voor rustyd deurgeglip het vir sy drie. Die rustydtelling was dus 11-7.
Na rustyd het die stryd selfs taaier geword en nie een van die twee spanne wou terugstaan nie. Die skrums, lynstane en afbreekpunte was ’n titaniese stryd, maar die Bulle het tog gelyk na die span wat stadig maar seker die oorhand begin kry.
Toe Dries Swanepoel nege minute voor die eindfluitjie oorduik, het dit gelyk of die Blou Bulle die knoop deurgehak het.
Die Cheetahs het egter, soos hul gewoonte al jare is, nooit gaan lê nie en met ’n reuse eindpoging na vore gekom. Toe Sias Ebersohn drie minute voor die einde deurglip na ’n vinnige tikskoppie onder die pale, het die spanning weer opgebou.
Gelukkig vir die Blou Bulle kon hulle vasbyt en toe Louis Fouché boonop ’n minuut voor die einde ’n strafdoel behaal, was die wedstryd uiteindelik in die sakkie.
Puntemakers:
BLOU BULLE: 24. Drieë: Burger Odendaal, Dries Swanepoel. Doelskoppe: Louis Fouché (1). Strafdoele: Tian Schoeman (2), Louis Fouché (2).
CHEETAHS: 17. Drieë: Rayno Benjamin, Sias Ebersohn. Doelskoppe: Fred Zeilinga (1), Clayton Blommetjies (1). Strafdoele: Fred Zeilinga (1).
