Gholfavonturier slaan balle vanaf warmlugballon
Heinrich du Preez, Pretoria se gholfavonturier, het dit wéér gedoen. In een van sy waaghalsigste avonture tot dusver het Du Preez vroeër hierdie week gholfballe vanaf ’n lugballon sowat 1000 voet bo die grond geslaan.
Pretoria se bekene gholf-avonturier het verlede week byHartbeespoortdam waarskynlik sy waaghalsigste avontuur tot dusver aangepak in ’n poging om nóg ’n wêreldrekord agter sy naam te skryf.
Heinrich du Preez het op ’n piepklein hout-platform aan die buitekant van ’n warmlugballon gestaan toe hy op ’n hoogte van 1000 voet gholfballe met sy ses-yster na die Pecanwood Gholfbaan onder hom geslaan het.
Du Preez is bekend as ’n avonturier wat in die verlede al baie waaghalsige en opwindende dinge gedoen het om sy meer as 30 gholfverwante wêreldrekords op te stel. Verskeie van hierdie rekords word amptelik deur die Guiness Book of Records erken. Sy nuutste avontuur was egter ’n waagstuk wat vergelyk kan word met dinge wat professionele waaghalse sou doen.
In samewerking met Conrad van Wyk en sy span van Life Ballooning in Hartbeespoort het Du Preez ’n platform van hout ontwerp, wat aan die buitekant van een van dié maatskappy se warmlugballon-mandjies vasgeheg is. Dié platform was net groot genoeg vir Du Preez om daarop te staan, terwyl ’n klein strokie kunsgras voorop geplak is waar hy die gholfballe kon plaas om dit vanuit die lugruim te slaan.
Du Preez is met ’n harnas aan die lugballon se mandjie vasgemaak, terwyl hy op die platform gaan staan het voordat dit sou opstyg. Ses lede van die media, waaronder ’n joernalis van Rekord, asook ’n lid van Du Preez se ondersteuningspersoneel, sy vrou Megan, en die vlieënier, Van Wyk, het die res van die passasiers in die lugballon se mandjie uitgemaak.
Van Wyk het die lugballon tot op die hoogte van 1000 voet laat styg, vanwaar Du Preez verskeie balle met sy ses-yster geslaan het om sodoende die eerste persoon ter wêreld te word wat dit kon regkry.
Ná ’n reis van sowat 30 minute bokant die omgewing van die Hartbeespoortdam het Van Wyk die warmlugballon weer veilig op moeder aarde geland, terwyl die res van sy personeel gereed was met vonkelwn om die prestasie te vier.
Soos al Du Preez se rekordpogings, was hierdie waaghalsige toertjie weer nie net ter wille van homself nie. Met hierdie avontuur het hy sy veldtog, “Golfing for Teddy” geloots. Verskeie bekende persoonlikhede sal in hierdie veldtog met Du Preez saamwerk, terwyl hy voor Desembermaand vanjaar in al nege die provinsies ’n rondte gholf gaan speel om geld in te samel vir die projek. Aan die einde van die projek sal honderde spesiale “pratende” teddiebere aangeskaf word, wat dat oor die kersseisoen aan kinders en ander siek mense in hospitale reg oor Suid-Afrika uitgedeel sal word.







