Oud Pretorianer draf in wêreldbekertoernooi vir Romenië uit
Die oud Pretorianer, Johan van Heerden, speel binnekort vir Romenië in die rugby wêreldbekertoernooi. Sy lewensverhaal maak dié prestasie soveel meer merkwaardig.
In 2005 was Johan van Heerden vir die rugby-owerhede van Pretoria maar net nog ’n matriekseun wat nie eers goed genoeg was om na die Cravenweek proewe uitgenooi te word nie, want hy was in ’n skool waar sy kanse byna nul sou wees om ooit deur een van die “kenners” raakgesien te word.
Die afgelope naweek het Johan saam met die nasionale span van Romenië in ’n vliegtuig geklim op pad na die rugby wêreldbekertoernooi. Hy het ’n week gelede teen Tonga in sy eerste toets vir dié land gespeel en hy word tans beskou as die beste slot in Romenië. Dié land is tans 17de op die Internasionale Rugbyraad se ranglys en hulle word beskou as die sewende beste rugbyland in Europa.
Die verhaal van Van Heerden se rugbyloopbaan is die soort materiaal wat Hollywood-skrywers inspireer, maar dit is ook ’n les aan elke rugbyspeler wat weens verskeie redes in die Suid-Afrikaanse opset nooit ’n regverdige kans gekry het nie. Van Heerden se verhaal gee hoop aan elkeen wat bereid is om in homself te glo, op te offer en hard te werk om sy doelwitte te bereik.
Dié reus van 1.96 meter, wat 115kg weeg, moes as matriekseun tevrede wees om by die AVS se Bokkieweek uit te draf, aangesien hy as leerling van Hoërskool Hercules nooit regtig ’n kans gehad het om deur die Bloubul skolekeurders raakgesien te word nie. Neels Grobler, wat destyd s nog by die Tukkies rugbyakademie betrokke was, het hom egter gesien speel en reëlings getref dat hy die volgende jaar by dié akademie aansluit.
Vanuit die Tukkies rugbyakademie het Van Heerden die geleentheid gekry om aan die Pumas se o.21 proewe deel te neem, wat hy met albei hande aangegryp het. Hy het twee jaar vir die Pumas se juniors uitgedraf en in die tweede jaar as 20-jarige ook ’n paar wedstyde vir hul Curriebekerspan onder die afrigting van Jimmy Stonehouse gespeel. In 2008 het Stonehouse hom ’n senior kontrak aangebied, maar na een seisoen het ’n ernstige besering sy loopbaan bedreig.
Nadat hy byna ’n hele seisoen op die kantlyn deurgebring het, is Van Heerden vir die Griffons (Welkom) geleen, waar hy uiteindelik twee frustrerende seisoene deurgebring het.
Van Heerden het egter groter gedroom en hy het sy rugby-CV aan ’n agent gestuur in die hoop om iewers in Europa ’n kans te kry. Al wat die agent beskikbaar gehad het, was ’n kans om vir die Baia Mare klub in die noorde van Romenië te gaan speel. Dít is een van die twee groot klubs in hierdie Oos-Europese land, wat eers onlangs aan professionele kompetisies begin deelneem het.
Hy het die kans aangegryp en ’n kontrak met Baia Mare geteken. Kort voor lank is hy ook gekies vir die Buchrest Wolfes, ’n streekspan wat deelneem aan die European Challenge Cup, waar hy teen top klubs uit Engeland, Frankryk, Skotland, Ierland, Wallis en Italië gespeel het. In dié liga het Van Heerden die afgelope drie jaar nie net gereeld teen Springbokke gespeel nie, maar hy kon ook sy eie vermoë toets teen sommige van die wêreld se beste spelers.
Hy het só goed van homself rekenskap gegee in plaaslike rugby in Romenië, asook in die European Challenge Cup, dat die nasionale rugbyowerhede onmiddelik voelers begin uitsteek het om hom langer in die land te laat bly toe hulle uitvind dat hy ’n paar weke voor die wêreldbekertoernooi sou kwalifiseer om vir Romenië te kan speel.
Intussen is Van Heerden met sy Suid-Afrikaanse verloofde getroud en hulle het hulself in Baia Mare gevestig. Hy het ook die unieke taal van Romenië aangeleer en deesdae is hy weens sy kookwater spel op die rugbyveld ’n nasionale held in dié land.
Hy was op skool ook ’n goeie atleet, wat beteken dat hy steeds een van die vinnigste voorspelers in Romenië is. Daarom speel hy soms ook flank, maar weens sy uitstaande lynstaanspel word hy in die nasionale span as slot beskou. Hy het al verskeie bekende slotte ore aangesit in die lynstane in die European Challenge Cup.
Van Heerden sê dat hy baie gelukkig is in Romenië en dat hy een van sy kinderdrome sal bewaarheid om vanjaar in die wêreldbeker toernooi uit te draf. Romenië speel boonop in dieselfde afdeling as Frankryk, Ierland en Italië, wat beteken dat hy teen top slotte te staan sal kom by dié toernooi. Hy het aan Rekord gesê dat hy ook graag sy spel by die wêreldbekertoernooi wil opdra aan sy ma, wat oorlede is enkele dae voor hy gehoor het hy is vir Romenië gekies.
Hoewel hy nie beplan om gou te skuif nie, sal hy seker oorweging skenk as een van die ryk klubs in Engeland of Frankryk hom ’n kontrak aanbied. Vir Van Heerden gaan sy rugbyloopbaan egter oor baie meer as geld. Hy glo hy het iets bewys deur dit wat hy reggekry het en hy sou graag ’n ambassadeur wou wees vir elke jong seun wat in Suid-Afrika die slagoffer is van die stelsel, waar rugbyspelers uit klein skole en sekere gebiede nie ernstig opgeneem word deur die manne met die baadjies en die dasse nie.
Sy raad aan elke jong seun, nieteenstaande sy agtergrond, is dus om in hulself te glo en aan te hou om hard te werk. “Iewers sal daar vir jou ’n deur oopgaan en dan moet jy jou kans met albei hande aangryp…”

