Kritieke foute in eerste helfte sink Blou Bulle teen Leeus
Na 'n skokkende eerste helfte kon die Blou Bulle in die tweede helfte van hul wedstryd teend ie Goue Leeus in so 'n mate herstel dat hulle byna die wedstryd gewen het.
Twee kritieke foute deur die Blou Bulle het aan die Goue Leeus verspotmaklike drieë besorg in die eerste helfte van hul Curriebeker wedstryd Saterdagaand op Loftus Versfeld, wat uiteindelik aan die Leeus die kans gegee het om die wedstryd met 36-28 te wen.
Nadat die Leeus se Springbok losskakel, Marnitz Boshoff, die Blou Bulle in die tweede minuut van die wedstryd aan die slaap gevang het met ’n puik dwarsskop, wat tot Courtnall Skosan se drie gelei het, het die noodlot op die tuisspan toegesak.
Eers het Marcel van der Merwe ’n baie swak aangee verby sy spanmaats gegooi en dit op die grond laat beland, waarna Franco Morstert kon gaan druk. Daarna het Ruan Combrinck ’n aangee van Dries Swanepoel onderskep om deur te draf vir nog ’n verspotmaklike drie.
Skielik was die Bulle diep in die moeilkheid en Boshoff het aangehou om die druk te laat opbou met straf- en skepdoele
Die Blou Bulle het in die tweede helfte tog die karaktertoets geslaag toe hulle tot so ’n mate teruggeveg het dat die verskil in die telling tien minute voor die eindfluitjie slegs vyf punte was. In vergelyking met die halftyd telling van 30-7 in die Leeus se guns, was dit ’n puik terugvegpoging.
In daardie tweede helfte het die Blou Bulle soms kliniese rugby gespeel en veral die vertoning van Deon Stegmann, wat as plaasvervanger op die veld veskyn het, was eersteklas. Stegmann het van die eerste minuut af nadat hy opgestuur is beheer oor die afbreekpunte oorgeneem en die Leeus se lostrio soos amateurs laat lyk.
Stegmann se invloed het direk en indirek bygedra tot drie van die Bulle se drieë.
Hierdie nederlaag is waarskynlik ’n bedekte seën, aangesien Nollis Marais se jong span duur lesse geleer het, maar ook baie selfvertroue sal wen uit hul terugvegpoging.
Puntemakers:
BLOU BULLE: 28. Drieë: Jamba Ulengo (2), Arno Botha, Deon Stegmann . Doelskoppe: Tian Schoeman (4).
GOUE LEEUS: 36. Drieë: Courtnall Skosan, Franco Mostert, Ruan Combrinck. Doelskoppe: Marnitz Boshoff (3). Strafdoele: Marnitz Boshoff (4), Skepdoele: Marnitz Boshoff (1).
