Local sportSport

Blou Bulle sukkel eers, maar klop OP Kings dan maklik op Loftus

Nadat die Blou Bulle weer in die eerste helfte gesukkel het, kon hulle daarin slaag om die OP Kings se aanslag af te weer en in die tweede helfte beheer oor te neem van Vrydagaand se Curriebeker wedstryd op Loftus Versfeld.

Nadat die Blou Bulle wéér in die eerste helfte gesukkel het om uit die blokke te kom, het hulle die drieë Vrydagaand in die tweede helfte ingeryg om die OP Kings maklik op Loftus Versfeld met 48-27 te klop.

Die Blou Bulle se ou kwaal van ’n stadige begin, asook swak verdediging deur die agterlyn, het die OP Kings die kans gegee om by te bly in die eerste helfte. Hoewel albei spanne in daardie eerste 40 minute twee keer gaan druk het, was dit Scott van Breda se skopskoen wat aan die Oos-Kapenaars ’n voorsprong van 20-17 gegee het teen rustyd.

Die OP Kings het besis Lotus Versfeld toe opgeruk om te bewys dat hulle met enige span in die Curriebeker Premierliga kan saamgesels. Hulle was ook baie effektief by die afbreekpunte, waar die Bulle vir Deon Stegmann gemis het. Stegmann het kort voor die wedstryd onttrek, nadat hy sedert Donderdag griepsimptome begin toon het.

In die tweede helfte het die Blou Bulle hulself egter reggeruk. Hulle het momentum begin opbou en toe Dries Swanepoel na tien minute se spel deurbars om te druk, was dit duidelik dat die OP se weerstand begin verkrummel.

In die volgende tien minute na Swanepoel se drie het Francois Hougaard weer sy waarde vir die span beklemtoon. Eers het hy ’n stukkie briljantheid getoon toe hy om ’n skrum breek en 55 meter ver genael het om onder die pale te druk. ’n Paar minute later was hy die hoofrolspeler in nog ’n langafstand drie. Hy het twee keer hanteer in ’n beweging vanaf die halflyn, wat uiteindelik op ’n drie vir Werner Kruger uitgeloop het.

Ruan Steenkamp, plaasvervanger flank, en Jacques du Plessis, wat later slot gaan speel het, was die Bulle se ander twee driedrukkers.

Die OP Kings het nooit ophou veg nie en hulle het laat in die tweede helfte self hul derde drie gaan druk.

Intussen het die WP teen die Lions op Emirates Airline Park verloor, wat beteken dat die Blou Bulle net volgende Vrydag hul laaste ligawedstryd teen die Pumas moet wen om ’n tuis halfeindrondte wedstryd te verseker.

 

Die punte – 

Blou Bulle: 48 (17). Drieë: Lappies Labuschagne (2), Dries Swanepoel, Francois Hougaard, Werner Kruger, Ruan Steenkamp, Jacques du Plessis. Doelskoppe: Tian Schoeman (4), Louis Fouché. Strafdoel: Tian Schoeman.

OP Kings: 27 (20). Drieë: Tim Whitehead, Elgar Watts, JP du Plessis. Doelskoppe: Scott van Breda (3). Strafdoele:  Scott van Breda (2).

Spanne:

Blou Bulle: 15 Warrick Gelant, 14 Travis Ismaiel, 13 Dries Swanepoel, 12 Burger Odendaal, 11 Jamba Ulengo, 10 Tian Schoeman, 9 Francois Hougaard, 8 Arno Botha, 7 Jacques du Plessis, 6 Lappies Labuschagne (Kaptein), 5 Rudolph Snyman, 4. Marvin Orie, 3 Marcel van der Merwe, 2 Bandise Maku, 1 Pierre Schoeman.
Plaasvervangers: 16 Corniel Els, 17 Werner Kruger, 18 Clyde Davids, 19 Ruan Steenkamp, 20 Ivan van Zyl, 21 Louis Fouché, 22 William Small Smith.

OP Kings: 15 Scott van Breda, 14 Sylvian Mahuza, 13 JP du Plessis, 12 Tim Whitehead (kaptein), 11 Luther Obi, 10 Elgar Watts, 9 Enrico Acker, 8 Jacques Engelbrecht, 7 Stefan Willemse, 6 Thembelani Bholi, 5 Cornell Hess, 4 Steven Sykes, 3 Tom Botha, 2 Martin Ferreira, 1 Lizo Gqoboka.
Plaasvervangers: 16 Edgar Marutlulle, 17 Schalk Ferreira, 18 Simon Kerrod, 19 Paul Schoeman, 20 Tim Agaba, 21 Dwayne Kelly, 22 Karlo Aspeling.

Skeidsregter: Lesego Legoete
Assistent skeidsregters: AJ Jacobs, Francois Pretorius

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button