Die Nollis Marais-era het aangebreek op Loftus Versfeld
Die suksesverhaal van Nollis Marais se loopbaan as rugbyafrigter lees soos ’n sprokie en nou glo die Blou Bulle Maatskappy se ringkoppe dat hy ook op SuperRugby vlak sukses kan behaal.
Drie maande gelede was Nollis Marais nog ’n redelik onbekende naam vir die breër publiek wat nie die vordering van die Blou Bulle nougeset volg nie.
Sedert die begin van die Curriebekerreeks het hy ’n huishoudelike naam geword in Pretoria en oor sowat ses maande van nou af sal hy ook regoor die rugbywêreld ’n bekende naam en gesig wees.
Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) se Hoof Uitvoerdende Beampte, Barend van Graan, het laat Vrydagaand, ná die normale post-wedstryde mediakonferensie wat op die wedstryd tussen die Blou Bulle en die OP Kings gevolg het, gevra om ook die media toe te spreek. Van Graan het sonder enige groot fanfare of omhaal van woorde aangekondig dat die BBM se direksie besluit het om Marais vir die volgende vier jaar, met ingang 1 November vanjaar, aan te stel as Hoofafrigter van die Bulls.
Niemand het werklik verwag dat hy by so ’n geleentheid so ’n groot aankondiging sou maak nie, veral aangesien die aansoeke vir die pos as Hoofafrigter van die Bulls se SuperRugby span skaars twee weke gelede gesluit het.
Hierdie aanstelling span die kroon op ’n professionele loopbaan as rugby-afrigter wat as niks anders as merkwaardig beskryf kan word nie. Marais se sukses sedert hy hom in 2007 voltyds as rugbyafrigter toegespits het, is byna ’n rugbysprokie. Daar is selfs geharde afrigters wat baie jare langer as hy al in die bedryf is wat nie by Marais kan kers vashou wat betref sy merkwaardige vermoë om kampioenspanne te brei nie.
Hoewel Marais self nooit professionele rugby gespeel het nie, was hy as speler ’n rugbylegende in eie reg. Hy het sedert sy standerd sewe jaar vir Hoërskool Montana se eerstespan gespeel. Na skool het hy byna ’n dekade lank Carltonbeker rugby vir die Naka Bulle gespeel, waar hy legendariese status in dié liga behaal het. Hy het die klub se Carltonbekerspan ook lank gelei en hy was verskeie keer kaptein van die Blou Bulle se amateurspan.
Marais het sedert 2007 op elke vlak waar hy afgerig het, bekers gewen. Hy het by die Hoërskool Overkruin se o.15 span begin – ironies genoeg sy alma mater, Hoërskool Montana, se aartsvyand. Toe hy met dié span sukses behaal, het hy die eerstespan tot Stadsbeker en Beeldtrofee kampioene gelei.
In 2008 het Marais by Tukkies aangesluit. Daar was hy by die universiteit se rugby-akademie en die Tuks Jongspan betrokke, waar hy weer silwerware ingepalm het. Na sy eerste seisoen by Tukkies was hy reeds loshande die gewildste afrigter by dié klub en hy is bekroon as Afrigter van die Jaar.
Marais het vinning gevorder by Tukkies en teen die einde van 2010 was hy die eerstepan se afrigter. Ná twee Carltonbeker titels het twee Varsitybeker titels gevolg vir Marais en Tukkies.
Intussen het Heyneke Meyer as desdtydse Direkteur van Rugby hom Loftus Versfeld toe gelok om die Blou Bulle se o.21’s af te rig. Ook daar het die silwerware ingestroom en dié junior professionele span van die Bulle het sederts 2011 in vier eindstryde gespeel en drie titels gewen onder Marais se leiding.
Hoewel daar aanvanklik baie bespiegelings was en name soos dié van Victor Matfield, Fourie du Preez en Johan van Graan onder andere genoem is as kandidate vir die pos as hoofafrigter van die Bulls, het Marais se statuur baie vinnig gegroei sedert die begin van die Curriebeker reeks. Uiteindelik het die BBM se raad besef dat Marais nie net die beste kandidaat is weens sy vermoë as afrigter en motiveerder nie, maar dat hy ook die nuwe geslag helde op Loftus Versfeld ken, dat hy gewild is onder hulle en dat hulle hom vertrou.
Marais het daardie besondere vermoë om sy gewildheid te handhaaf ten spyte van sy geloof in streng dissipline en harde werk. Sy kommunikasie met die spelers is skynbaar baie goed, maar hulle besef terselfdertyd dat hy geen nonsens duld nie. Hy het veral ’n afkeur in ego’s en groot koppe en hy is nie bang om supersterre uit sy span weg te laat as hulle nie hul kant bring nie. Daarby glo hy daaraan om kompetisie te skep binne spanverband, wat verhoed dat spelers in ’n gemaksone verval, soos wat ooglopend die afgelope paar seisoene by Loftus Versfeld die geval was.
Daar het dus ’n nuwe era op Loftus Versfeld aangebreek. Die era van Nollis Marais. Hy is in murg en been ’n Pretorianer en ’n Bloubul en hy verstaan die kultuur van dié span. Die toekoms lyk dus weer belowend vir die Ligbloues.
