Mallet is positief oor Bokke se kanse
Die voormalige Springbok afrigter, Nick Mallet, het verlede week by ’n rugby-ontbyt van die Blou Bulle, aan gaste moed gegee vir die Springbokke se kanse om vanjaar die wêreldbeker te wen.
As Heyenke Meyer sy kaarte reg speel in die uitklopfase van die wêreldbeker toernooi is daar geen rede waarom die Springbokke nie vir die derde keer as wêreldkampioen gekroon kan word nie.
Dít was die mening van die oud Springbok afrigter en gerespekteerde rugby-ontleder, Nick Mallet, wat verlede week by ’n rugby-ontbyt van die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU) in Pretoria as gasspreker opgetree het.
Mallet het oudergewoonte die gaste by die ontbyt aan sy lippe laat hang met al sy wysheid en kwinkslae. Hy het hulle veral laat skaterlag met sy vertellings van staaltjies uit sy dae as afrigter van die nasionale span van Italië. Hy het dié span tussen 2008 en 2011 afgerig en hulle het van hul beste prestasies ooit onder sy afrigting gelewer.
Daarna het hy ernstig geraak en oor die Springbokke gesels. Mallet het erken dat hy die laaste persoon is wat kritiek kan lewer op ’n Springbok afrigter se keuses, aangesien hy in 1999 waarskynlik die kans verbeur het om Suid-Afrika se tweede wêreldkampioenspan af te rig toe hy destyds sy jarelange kaptein, Gary Teichmann, kort voor dié toernooi uit die span gelaat het. Hy het erken dat dít die grootste fout van sy loopbaan as afrigter was.
Dié lenige oud Springbok agtsteman het egter onthul dat hy en Heyneke Meyer steeds gereeld kontak met mekaar het. Baie ondersteuners het al vergeet dat Meyer in die Mallet-era reeds by Springbokrugby betrokke was, toe hy as 30-jarige jongeling een van Mallet se hulpafrigters was. Op daardie stadium het Meyer groot indruk gemaak met sy sukses by Suidwestelike Distrikte (SWD) en Mallet het hom betrek by die Springbokke.
Mallet het laat deurskemer dat Meyer hom steeds as ’n soort mentor of klankbord beskou en dat hulle gereeld kontak het. Hy het onomwonde vertel dat sy raad aan Meyer was om drastiese, maar deurslaggewende, besluite te maak oor die “ou manne” wat hy saamgeneem het na die wêreldbeker toernooi, wat duidelik volgens Mallet nie in die span hoort nie. Dit was opvallend dat hy gereeld die Du Plessis-broers, Jannie en Bismark, uitgesonder het en Mallet het geen geheim daarvan gemaak dat nie een van hulle in die span sou wees as hy die afrigter was nie. Hy beskou Victor Matfield blykbaar ook as ’n risiko wat nie ’n plek in die 23-tal behoort te kry in die uitspeelfase nie.
Oor Ruan Pienaar het hy ook ’n baie sterk opinie en dis duidelik dat hy hom as ’n swakplek in die span beskou. Daarenteen beskou hy Fourie du Preez as Meyer se grootste troefkaart.
Mallet het aan die gaste by die ontbyt verduidelik dat hy steeds vir Meyer as ’n top afrigter beskou. Volgens hom is Meyer se probleem egter sy buitengewone lojaliteit aan sekere spelers. Volgens Mallet is lojaliteit ’n goeie ding, maar dit moet nie ’n afrigter se nugter denke oor die beste span-scenario beïnvloed nie.
Nóg ’n onthulling van Mallet tydens sy toespraak was dat daar reeds voelers na hom uitgesteek is om moontlik die pos as afrigter van Engeland oor te neem. Hy het dit egter duidelik gestel dat hy sy werk as ontleder by SuperSport te veel geniet en dat hy nie op sy ouderdom meer lus het vir die intrige van ’n internasionale afrigter se werk nie.
Hy het ook vertel hoe hy in 2011 genader is en hoedat hy onder die indruk was dat hy dié pos sou kry. Op daardie stadium is Engeland egter op die sokker- en krieketveld deur buitelanders afgerig en die rugbybase was bang vir die reaksie van die Engelse volk as hulle óók ’n buitelander sou aanstel. Stuart Lancaster is toe onverwags bo Mallet aangestel, hoewel top amptenare van die Engelse Rugby-unie hom vooraf laat verstaan het dat hy die pos sou kry. “Hulle het reeds met my begin gesels oor dinge soos verblyfreëlings”, het Mallet gesê.
Oor die toekoms van die Blou Bulle en die Bulls is Mallet ook baie positief. Hy het ’n hoë dunk van Nollis Marais en hy glo dis ’n goeie ding om ’n jong afrigetr aan te stel wat die volgende geslag spelers goed ken. “Marais was vier jaar lank die Blou Bulle se o.21 afrigter en hy het met baie toekomstige sterre gewerk. Hulle vetrou hom en hy ken hulle. Dit is reeds ’n goeie begin”, was Mallet se mening.
Hy is veral beïndruk met die wyse waarop Marais nie bang is om van meer ervare afrigters te leer nie. Hy het vertel dat Marais in die verlede al moeite gedoen het om met hom te konsulteer om raad te vra oor verskeie aspekte van die rol van ’n afrigter.
