Local sportSport

Nico Luus sien uit na nuwe fase in sy rugbyloopbaan

Na byna twee dekades as vooraanstaande professionele en semi-professionele rugbyspeler, sien Nico Luus uit na die nuwe fase van sy loopbaan as afrigter van Pretoria Polisie se Carltonbeker span.

Daar is nogal verbasend baie ooreenkomste tussen Nico Luus en Victor Matfield se rugbyloopbane, maar die een groot verskil wat wel uitstaan is dat Luus se spelersloopbaan langer as dié van Matfield was.

Luus het enkele maande gelede as speler uitgetree op die ouderdom van 38 jaar en net soos Matfield was hy ’n slot en lynstaanmeester wat aanvanklik ’n beter krieket- as rugbyspeler was.

Dié oud leerling van Birchleigh Hoërskool in Kempton Park se rugbyloopbaan het interessante draaie geloop voor hy ’n paar jaar gelede die hart en siel van Pretoria Polisie se Carltonbeker span geword het.

Luus se storie het egter ’n interessante begin gehad, want hy wou op skool eintlik van krieket ’n loopbaan maak. Direk na skool is hy vir ’n jaar Nederland toe met ’n krieketkontrak in sy sak. Dinge het egter nie uitgewerk nie en met sy terugkeer na Suid-Afrika het die Valke se o.21 span hom by Brakpan rugbyklub raakgesien en nadergetrek.

Hoewel hy nooit Cravenweek rugby gespeel het nie, het hy tog vir die Valke se Akademiespan én daarna ook vir die Suid-Afrikaanse Akademiespan uitgedraf.

Nadat hy as jongeling vir die Valke se juniors uitgedraf het, is hy deur die senior afrigters nadergetrek en daarna het hy tussen 2001 en 2008 meer as ’n honderd wedstryde vir die Valke gespeel. Eers teen die einde van sy provinsiale loopbaan, op 32-jarige ouderdom, het dié lynstaanghoeroe die nodige erkenning gekry en in 2009 en 2010 het hy Curriebeker- en SuperRugby vir die Leeus gespeel.

Nadat sy tydgenote se rugbyloopbane tot ’n einde gekom het, het Luus egter ’n nuwe fase van sy rugbydae in Pretoria begin, toe hy deur Johan Kluyts vir die Bobbies gewerf is. Nog vyf seisoene en ’n hele paar hoogtepunte sou volg, voordat Luus enkele maande gelede finaal halt geroep het.

Hy het in sy dae by die Valke reeds die nodige kwalifikasies as afrigter verwerf, want hy het geweet hy sou in dié hoedanigheid by die spel betrokke bly. Hoewel hy reeds die afgelope paar jaar meer as net ’n speler by Polisie was, is Luus nou amptelik aangestel as die Bobbies se nuwe hoof afrigter.

Luus se planne is reeds agtermekaar en hy is opgewonde oor die nuwe fase van sy loopbaan. Op die oog af is hy ’n baie gewilde keuse om die Bobbies-kultuur te beskerm en te sorg dat goeie, opwindende rugby aanhou seëvier by dié klub.

Hy verdien tans nog sy brood as bankamptenaar, maar Nico Luus maak geen geheim daarvan dat hy droom van die dag dat hy daardie korporatiewe das kan afhaal en al sy kragte en talente as rugbyafrigter kan uitleef nie. Wie weet, dalk sien ons hom in die toekoms nog in ’n soortgelyke hoedinigheid op Loftus Versfeld.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button