Local sportSport

Jeugklubs smee internasionakle vriendskapsbande

Die Blou Bulle se jeugbklubs het vanjaar geskiedenis gemaak en hul suksesvolste seisoen sedert die instelling van dié soort rugby in 2005 beleef.

Lede van die Blou Bulle Jeugklubvereniging se o.18 span het vanjaar die voorreg gehad om hulself teen internasionale teenstanders te toets.

Dít het gevolg na ’n baie suksesvolle seisoen vir al die Blou Bulle se jeugklub spanne, waarin hulle onder andere skoonskip gemaak het by die jaarlikse Interprovinsiale Jeugklub Toernooi.

Hierdie toernooi is vanjaar deur die Jeugklubvereniging van die Goue Leeus aangebied. Dit was weer ’n uiters suksesvolle toernooi waaraan vier unies deelgeneem het. Die Goue Leeus se Rooibokke, die Valke se jeugklubs en Kwazulu-Natal se Duikers was almal daar om die toernooi se standaard baie hoog te stel.

Wedstryde is by die Universiteit van Johannesburg gespeel en nadat al vyf die Blou Bulle se spanne (o.13; o.14; o.15; o.16 en o.18) die onderskeie eindstryde gehaal het, het hulle ook die besondere prestasie behaal deur almal as kampioene gekroon te word.

Vanjaar se Bloubul spanne het hiermee die eerste groep uit ’n unie geword om dié merkwaardige prestasie te behaal sedert die interprovinsiale kampioenskappe tussen die jeugklubs van provinsiale rugby-unies in 2005 ingestel is.

Jeugklub rugby vervul ’n belangrike rol om aan seuns van skoolgaande ouderdom die geleentheid te gee om hul rugbyseisoen te verleng. Die jeugklubs se liga vind normaalweg plaas na afloop van die skoleligas. Dit bied ook die geleentheid aan seuns wat in skole is waar rugby nie aangebied word nie òf aan seuns wat tuisonderrig ontvang, om wel rugby in ’n georganiseerde liga te kan speel.

Ná afhandeling van die interprovinsiale toernooi het die Blou Bulle se Jeugklubvereniging die geleentheid gekry om gasheer te speel vir ’n toerspan uit New South Wales Country Districts in Australië. Daar was ook ’n versoek dat die Blou Bulle se o.18 span in ’n wedstryd teen dié toerspan sou speel en dié geleentheid het op 21 November plaasgevind danksy die bemiddeling van die Blou Bulle se Jeugklubs voorsitter, Henry Adendorff. Hoewel dit reeds laat in die jaar was en die wedstryd ná die amptelike seisoen ten tye van ’n hittegolf in Pretoria gespeel is, het dié kragmeting op Loftus Versfeld se B-veld sprankelrugby opgelewer.

Die Blou Bulle Jeugklubs se o.18 span het hierdie titaniese stryd met 16-10 gewen, wat beteken dat hul onoorwonne rekord vir die seisoen steeds behoue kon bly.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button