Pretorianer swem in yswater op Andesberge vir wêreldrekord
Die Pretorianer, Herman van der Westhuizen, was onlangs deel van ’n avontuurlustige groep van vyf mans wat ’n nuwe wêreldrekord opgestel het deur deel te wees van die hoogste ysswem ekspedisie wat ooit bo seevlak onderneem is.
Dis nogal vreemd hoeveel ingenieurs ’n mens ontmoet met vreemde en ekstreme stokperdjies.
Neem nou maar vir Herman van der Westhuizen, chemise ingenieur van Pretoria as voorbeeld. In sy dagtaak is Herman ’n man wat die wette van die natuurwetenskappe tot die uiterste respekteer. Maar in sy stokperdjie, daag hy hierdie wette gereeld uit.
Van der Westhuizen het ’n voorliefde vir koue water – hy is een van daardie manne wat, net in ’n speedo geklee, in ysig koue water swem. Hy was onlangs nog tweede in die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in ysswem. Daarby is hy een van die enkele mense wat al suksesvol tussen Robbeneiland en Bloubergstrand kon swem. Verder stil hy sy honger aan adrenalien en ekstreme uitdagings deur deelname aan die bekende Ysterman kompetisie.
Hierdie stokperdjie gaan egter nie net oor die uitdaging van die koue water nie. Dít het Van der Westhuizen weer besef toe hy onlangs deel was van ’n groep manne wat ’n nuwe wêreldrekord opgestel het vir die mense wat op die hoogste hoogte nóg bo seevlak in ’n natuurlike poel water kon swem.
Saam met Jean Craven, die stigter van die liefdadigheidsorganisasie Madswimmer
, en nog ’n vriend, Chris Marthinusen, asook twee manne in duikpakke (Evan Feldman en Milton Brest) het Van der Westhuizen vir vyf minute in water van -2 grade celcius in die Tres Cruces Norte meer, 5905 meter bo seevlak, binne-in ’n vulkaan in die Andesberge op die grens van Chile en Argentinië geswem.
Hierdie espedisie het egter hemelsbreed verskil van ander vorige ekspidisies van manne wat rekords in hierdie ekstreme sport opgestel het. Vir Van der Westhuizen en sy vriende was dit nie, soos in baie ander gevalle, ’n kwessie dat hulle met voertuie of helikopters afgelaai word by die ysmeer waar hulle moet swem en dat die koue water hul grootste uitdaging was nie. In hulle geval was dit ’n moordende ekspedisie, waartydens hulle eers die geskikte meer op die berg moes gaan soek, terwyl hulle onder moeilike omstandighede met los gruisagtige grond (oorblyfselfs van die vulkaan) teen die berg moes uitklim. Daarby moes hulle van ’n basiskamp af opereer, aangesien die meer waar hulle moes swem té hoog bo seevlak was en hulle weens die gebrek aan genoeg suurstof nie daar kon oornag nie.
Die manne op die ekspedisie moes letterlik eers ’n geskikte swemplek gaan soek, aangesien die reëls vir die rekord bepaal dat die water waarin geswem word ten minste een hektaar moet beslaan. Die groep van 18 manne, wat dokters, ’n kok, kameraman ens. ingesluit het, het kamp opgeslaan op ’n gebied op die berg 4500 meter bo seevlak. Hiervandaan het hulle die geskikte swemplek gaan soek en toe hulle dit kry moes hulle die finale aanslag op die rekord beplan.
Op die dag waarop die aanslag gemaak is het hulle teen vieruur die oggend begin klim, wat natuurlik baie uitputtend vir die geselskap was weens die feit dat die suurstof al hoe minder word hoe verder hulle klim. Hulle moes in toestande wat wissel van sneeu tot die gruisagtige klip oor die rant van die vulkaan klim, waarna hulle weer kon afdaal vir ongeveer 100 meter tot by die meer.
By die meer aangekom, het ’n terugslag hulle getref toe die kettingsae waarmee die yslaag op die water verwyder sou word, weens die feit dat daar net 46% suurstof beskikbaar is nie wou werk nie.
Plan-B was nog meer uitputtend vir die swemmers, aangesien hulle met pikke ’n poel water moes oopkap. Tyd was natuurlik heeltyd ’n faktor, aangesien hulle voor donker by hul basiskamp terug moes wees. Nadat ’n poel van 12 meter lank oopgekap is kon die dapper swemmers amptelik hul rekordpoging aadurf. “Na twee ure van pik op daai hoogte is mens so lam dat jy nie jou arms kan oplig nie en werklik net voeitjie-vir-voeitjie kan beweeg. Ons moes dus eers vir ’n hele ruk in die mediese tent lê om ons energie terug te kry terwyl ons warm vloeistof inneem. Dit is selfs op seevlak te gevaarlik om te probeer swem in water onder vriespunt as mens koud is en jou harklop hoog en suustof vlakke laag is”, het Van der Westhuizen aan Rekord vertel.
Craven was eerste in die water en daarna het Van der Westhuizen en Marthinisen in hul speedos ook ingeklim vir ’n swemsessie van vyf tot sewe minute in dié water met ’n temperatuur van benede vriespunt. Weens die gevaar om onder die ys te beland of iets oor te kom in die yswater, is hulle met ’n harnas om die lyf die water in.
Hierna het die herstelperiode onder die wakende oog van ’n dokter in die mediese tent begin, voordat hulle terug kon keer na die basiskamp.
Van der Westhuixen vertel dat hy, ten spyte van drie beskikbare etes per dag, voorberei deur ’n opgeleide kok, steeds 4kg in die twee weke van die ekspedisie verloor het. “Onder die omstandighede met die min suurstof beskikbaar, verloor jy jou eetlus. En in die dae bo-op die berg, veral as jy hoër as die basiskamp gaan, het jy permanent hoofpyn van te min suurstof. Dan wil jy nie eet nie”, het dié pa van drie kinders vertel.
Hy wil nie graag oor die kostes van die espedisie praat nie. “My vrou sal my skei as sy weet…” vertel hy met ’n breë glimlag.
Hierdie materiële dinge maak egter nie regtig saak vir ’n avonturier soos Herman van der Westhuizen nie. Hy weet ten minste hy het iets bereik waaroor letterlik net ’n handvol mense kan spog. Daarvan sal sy naam eersdaags in die Guiness Book of Records getuig.



