Opwindende jaar wag vir Naka Bulle
Die “nuwe” Naka Bulle rugbyklub, wat deesdae spog met ’n internasionale rugby-instituut, is besig om hul vere reg te skud vir ’n groot seisoen in 2016.
Spelers, afrigters en administrateurs by die Naka Bulle rugbyklub het op 4 Januarie reeds weer skouer aan die wiel gesit om hul voorbereiding vir 2016 in alle erns te begin.
Rekord het reeds verlede jaar intensief berig dat dié klub groot planne het vir die toekoms en dat ’n internasionale rugby-instituut by Naka Bulle gevestig is.
’n Opwindende nuwe rugby-akademie, met bekende administrateurs soos Neels Grobler en Marinus van der Wath aan die stuur, sal een van die eerste projekte van hierdie instituut wees.
Hierdie verwikkelinge sal volgens alle aanduidings die klub se spelersgeledere aansienlik versterk en dié manne glo vas dat hulle die rugbypubliek in die Moot vanjaar weer trots gaan maak op hul eie Carltonbeker klub. Onder voorsitterskap van die invloedryke sakeman, Ian Herbst, glo die klub dat hulle gereed is om weer silwerware vir hul trofeekas te begin versamel.
’n Woordvoerder van die klub het ook aan Rekord gesê dat hulle geen verliese gely het wat top spelers betref nie. Dit beteken dat sterre soos die opwindende agterspeler, Anthony Beswick, en die jong losskakel-generaal, Jean Grobler, albei weer in die Naka-trui in aksie sal wees.
Met die aanstelling van Van der Wath as Direkteur van Rugby is die planne ook gereed om al die klub se spanne se vertonings te verbeter. Dis egter veral die eerstespan, wat onder die wakende oog van Van der Wath en sy adjudante, Martin Knoetze en Anthony Oberholtzer gebrei sal word, wat vanjaar na groot hoogtes gaan mik.
By die junior spanne sal Bierman Smit en Morné Human, twee manne wat hul ook bewys het met die prestasie van Naka Bulle se o.20 span in 2015, die leisels neem. Verlede jaar se o.20 span van die klub is uiteindelik as die Blou Bulle se kampioene gekroon, nadat hulle in een seisoen drie keer met Tukkies afgereken het.
Naka Bulle se eerstespan speel reeds op 30 Januarie ’n oefenwedstryd teen Tukkies se Varsitybekerspan, waarna die Assupol reeks op Saterdag 13 Februarie sal afskop. Die bepalings maak voorsiening vir tuiswedstryde vir Naka op 13 en 20 Februarie teen onderskeidelik Harlequins en Rustenburg Impala, terwyl hulle weg sal speel teen UJ op 27 Februarie.
’n Oefenkamp in die Waterberg omgewing, wat ’n oefenwedstryd teen die Nylstroom klub insluit, word ook beplan.
Alle huidige en voornemende spelers word genooi om die klub se oefeninge op Maandae, Woensdae en Donderdae by te woon.
Alle navrae: Buks Burger by 082-925-7206.
