Silver Valke gereed vir baie besige seisoen
Die Silver Valke rugbyklub in Silverton mik na ’n groot jaar op die veld en hul besige program begin reeds teen die einde van Januarie.
Die Silver Valke rugbyklub wil vanjaar met hul groot terugbons-aksie begin en spelers van dié klub is reeds hard aan die oefen vir die lang seisoen wat voorlê.
Die klub se seisoen begin reeds amptelik op 30 Januarie met ’n vriendskaplike wedstryd teen Harlequins van Krugersdorp.
Daarna skuif die fokus na die Flya kompetisie, wat nou reeds bekend is vir die groot pryse wat op die spel is vir deelnemende spanne. Dié kompetisie vind in Februarie plaas.
In Maart is die Silver Valke betrokke by die bekende ruby-administrateur, Jan de Bruyn, se nuwe “Viernasies” toernooi.
Die amptelike Blou Bulle-ligas begin in April en die manne van Silverton wil teen daardie tyd gereed wees om weer hul stem dik te maak in die Eersteliga. Die klub het beslis planne om goed genoeg in dié liga te vaar, sodat hulle weer ’n kans kan kry om terug te skuif na die Carltonliga, waar hulle ’n paar seisoene gelede een van die top spanne was.
Alle spelers wat belangstel om hul rugby in ’n gemoedelike familie-atmosfeer by ’n klub met puik fasiliteite te speel, is welkom om by die Silver Valke aan te sluit. Oefeninge het reeds begin en vind plaas op Maandae en Woensdae vanaf 18:00. Die klub se adres is Roestoffstraat 220, Silverton.
Ter fondsinsameling bied die Silver Valke op 29 Maart ’n reuse manne-aand aan. Sprekers soos die Leeus se afrigter, Johan Ackerman, asook die skrywer en motiveerder, Mayan Subrayan, sal by hierdie geleentheid optree. Daar sal ook ’n vrae-en-antwoord sessie wees en ’n bekende seremoniemeester en kunstenaar sal optree.
Alle navrae (klubsake en die manne-aand) kan gerig word aan Henry van Wyk by 083-466-9016.
