Suid-Afrika stewig in die saal na Amla en Cook se honderdtalle
Twee honderdtalle op dag een in die vierde toets tussen Suid-Afrika en Engeland het Suid-Afrika stewig in die saal geplaas om verlore eer te kan herwin op SuperSport Park in Centurion.
Stephen Cook moes wag totdat hy 32 jaar oud is voor hy ’n kans kon kry om vir Suid-Afrika krieket te speel, maar hy het deeglik van daardie kans gebruik gemaak toe hy in sy heel eerste beurt vir Suid-Afrika ’n honderdtal aangeteken het.
Cook se eerste proesel van toetskrieket het gekom in die vierde toets tussen Suid-Afrika en Engeland wat op SuperSport Park gespeel word.
Nadat Suid-Afrika die loot gewen het, het Cook die beurt saam met Dean Elgar geopen. Elgar het sy paaltjie in die 11de beurt verloor met sy telling op 20, waarna Hasim Amla uitgestap het om sy vennootskap met Cook te begin.
Hoewel daar geredeneer kan word dat die Engelse span geen druk op hulle gehad het nie, omdat hulle die reeks reeds verlede week op die Wanderers in Johannesburg ingepalm het, het Cook en Amla se spel tog hul boulers gefrustreer en die manier waarop veral Cook gespeel het, het sy klas vertoon. Skielik is daar vrae gevra waarom hierdie begaafde kolwer nou eers sy kans in die Suid-Afrikaanse span kry.
Amla was egter die eerste wat by sy honderdtal kon uitkom, nadat hy kort voor teetyd dié mylpaal bereik het.
Teen teetyd was Suid-Afrika se telling op 224 vir die verlies van slegs Elgar se paaltjie.
Sowat ‘n halfuur na teetyd was daar groot feesviering in die paviljoen toe Cook, die 32-jarige “groentjie” in toetskrieket geskiedenis kon maak om sy eerste honderdtal in sy eerste toetsbeurt te speel.
