Local sportSport

Vroeë deurbrake vir Proteas op dag drie

’n Blitskrieg van drie paaltjies binne ’n halfuur deur die kombinasie van Kagiso Rabada en Quinton de Kock het Suid-Afrika in ’n baie sterk posisie geplaas teen etenstyd op dag drie van die vierde kriekettoets teen Engeland in Centurion.

Die Proteas se sterte was in die lug teen etenstyd van dag drie van die vierde toets teen Engeland in Centurion, nadat die besoekers se twee gevaarmanne, Alistair Cook (76) en Joe Root (76), albei binne die eerste sessie van die dag se spel uitgehaal is, terwyl nog twee paaltjies kort daarna geval het.

Cook kon net 9 lopies by sy oornagtotaal van 67 voeg toe hy na sowat ’n uur se spel ’n skitterende aflewering van Morné Morkel in die veilige handskoene van paaltjiewagter, Quinton de Kock, gespeel het.

Nadat swaar reën byna regdeur die nag in Centurion uitgesak het, was daar vroegoggend kommer of die wedstryd betyds sou begin. Sowat ’n uur voor die spel moes begin het ligte druppels steeds oor SuperSport Park uitgesak, maar later het dit opgeklaar en dit wou lyk of die son sou deurbreek. Spel het betyds om 10:30 begin, hoewel dit steeds bewolk was in Centurion.

Die Suid-Afrikaners se aggressiewe boulwerk vanaf die eerste bal van die dag het gewys dat hulle gehoop het op ’n vroeë deurbraak, maar Cook en sy kolfmaat, Joe Root, het dadelik begin om die pas te versnel. Veral Root, wat Saterdagaand op 31 uitgeskei het, was haastig om lopies aan te teken. Hy het die Suid-Afrikaanse veldwerkers laat bontstaan met puik houespel totdat hy hom in die boulwerk van Kagiso Rabada vasgeloop het.

Sowat 15 minute voor etenstyd het Kagiso Rabada ’n einde gemaak aan Root se planne toe hy hom deur De Kock laat uitvang het met ’n netjiese aflewering. Engeland was skielik sonder enige top orde kolwer en vir die Proteas lyk dinge al hoe meer belowend.

Rabada en De Kock se samewerking was egter nog nie klaar met die Engelse nie. In die laaste vyf minute voor etenstyd het hulle ook van James Taylor (14) en Jonathan Bairstow (0) ontslae geraak. Dit was Rabada se tweede keer dat hy vyf paaltjies in sy jong toetsloopbaan kon oes en teen etenstyd het die Engelse op 211/6 gesteier.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button