Negatiewe én positiewe aspekte van Bulls se vertoning in Kaapstad
Hoewel die Bulls se nederlaag op Nuweland teen die Stormers soms met swak spel gepaard gegaan het, is daar geen rede om nou reeds vir Adriaan Strauss en sy manne af te skryf nie.

Die pakslae van 33-9 wat die Bulls die afgelope naweek op Nuweland in Kaapstad by die Stormers gekry het, het baie vrae by ondersteuners van die Bulls laat ontstaan.
Om egter die kind met die badwater uit te gooi en nou reeds te voorspel dat “die einde vir die Bulls aangebreek het”, soos baie ondersteuenrs doen, is waarskynlik ’n reaksie gedryf deur té min realisme en té veel emosie.
Perspektief is dus dringend nodig. Ja, daar was negatiewe punte en vrae moet beslis gevra word of die Bulls die regte (en genoeg) vaste voorspelers het om hierdie veldtog te oorleef. Die wedstryd het ook bewys hoe groot die terugslag van Deon Stegmann en Lappies Labuschagne se ontydige beserings was. Nick de Jager, die oud Matie wat via Saracens by die Bulls aangesluit het, is ’n harde werker, maar hy is nié ’n spesialis baljagter nie. Die Bulls het dus pak gekry by die afbreekpunte, waar veral Nizaam Carr uitstekend was as spesialis.
Een van die belangrikste negatiewe punte is dat beide die Bulls se skrumskakels op die dag swak was. Dit het ’n groot invloed gehad dat die Bulls se agterlyn geen momentum kon vind nie, selfs toe die Pretorianers nog baas was in die skrums in die eerste 50 minute van die wedstryd.
En van die grootste bronne tot kommer was ook die gebrek aan meer leiers in die span wat manne soos Adriaan Strauss en Arno Botha enduit kon ondersteun. Dit het gewys in die manier waarop die Bulls se weerstand verkrummel het met die Stormers se vernederende derde drie, waar die Kapenaars 25 meter ver geploeg het met die Bulls se voorspelers. Daar was eenvoudig nie meer genoeg durf en toewyding om die tuisspan te probeer stuit nie.
Bulls ondersteuners met ’n meer positiewe houding sal egter hoop dat hul span lesse geleer het uit hierdie wedstryd. Feit bly staan dat Nollis Marais vanjaar van vooraf moet begin bou aan ’n nuwe era in die Bulls se geskiendenis. Die Bulls het byvoorbeeld nie ’n enkele vaste voorspeler oor wat ’n eerstekeuse speler was in die Frans Ludeke-era nie.
’n Goeie SuperRugby veldtog word gevoer met ’n groep van top spelers, nié net met vyftien sterre nie. Strauss en sy manne het ook eers na 50 minute se spel begin vou. Daar word te gou vergeet dat hulle tien minute na rustyd nog slegs drie punte agter was. ’n Sameloop van verskeie negatiewe aspekte het daarna die wedstryd in die guns van die Stormers geswaai.
Ok aan die negatiewe kant kan ’n mens hoop dat die Bulls se bestuur ook lesse geleer het uit die vernedering van Nuweland. Soos dat Jesse Kriel wel ’n puik rugbyspeler is, maar dat hy eenvoudig nie die temperament op verdediging het om ’n goeie buitesenter te kan wees nie. Dié posisie gaan nie net oor aanval nie. Dis die moeilikste kanaal op ’n rugbyveld om in te verdedig en Kriel is op sy beste ’n middelmatige verdediger.
Die Bulls se twee plaasvervanger stutte het wel gesukkel in die vaste skrums op Nuweland, maar hulle is albei kwaliteit spelers was nog ’n kans verdien. Hencus van Wyk het as junior reeds gewys dat hy tegnies een van die beter vaskoppe in die land is. Ongelukkig het hy Saterdag op die verkeerde tyd aan die verkeerde kant van ’n verwoestende JC van Rensburg beland. Bittermin vaskoppe in wêreldrugby sal teen Van Rensburg kan bly staan as hy in daardie bui is en Van Wyk kan beslis nie na net een vertoning afgeskryf word nie. Hy het later in die wedstryd al hoe beter begin skrum.
Bulls ondersteuenrs sal moet aanvaar dat Marais nou eers begin bou aan ’n nuwe era en dat dit met pynlike nederlae gepaard sal gaan. Daar is egter genoeg talent op Loftus Versfeld om binne enkele seisoene weer ’n kampioenspan te vestig. Dit het verlede jaar se Curriebeker veldtog reeds bewys.
