Tuks veg terug, Polisie sukkel
Hoewel daar nie die afgelope week groot verrassings in die Carltonbeker liga was nie, is die huidige stand van die twee groot kragte in dié toernooi, Tukkies en Polisie, baie interessant.
Tukkies is ’n troste rugbyklub wat nie sommer maklik sonder ’n geveg van sy status as kampioenspan in die Blou Bulle se gesogte Carltonbeker liga afstand gaan doen nie.
Dit het die studente bewys deur die afgelope naweek met die sterk klub van Impala in Rustenburg af te reken. Daarenteen lyk dit of die Blou Bulle se ander tradisionele staatmaker klub, Polisie, vanjaar effens sukkel om by die voorlopers op die puntelys te bly, ten spyte van die feit dat hulle reeds gekwalifiseer het vir die Gouebeker toernooi (voorheen Gemeenskapsbeker), wat later vanjaar aangebied gaan word.
* Nadat Tukkies op ’n stadium vanjaar heel onder aan die puntelys van die Carltonbeker toernooi gelê het, het die studente begin terugveg en hulle is stadig maar seker besig om hul status te verbeter. Hul oorwinning oor Impala met 39-27 beteken dat hulle nou in die vierde plek op die punteleer is.
Hierdie nederlaag was slegs Impala se tweede van die seisoen, wat daarop wys dat Tukkies beslis hul sokkies opgetrek het ná hul vroeër regtig nie goeie rugby gespeel het nie.
Tuks het vier drieë teen die Noordwesters se drie gedruk en hulle spog nou boonop weer met ’n positiewe punteverskil op die punteleer, wat daarop dui dat hulle spelkurwe beslis opwaarts neig.
* Intussen het Polisie vir die eerste keer in ’n baie lang tyd ’n tweede nederlaag in een seisoen teen Centurion gelei. Centurion het die Bobbies die afgelope naweek met 24-23 geklop. Die klub uit die suide het drie drieë teen die Bobbies se twee gedruk, terwyl losskakel Morné Hugo Polisie op Centurion se hakke gehou het met sy skopvoet.
Dié twee klubs is twee van die min oopklubs wat klubrugby se standaard die afgelope dekade op ’n hoë standaard gehou het en hulle gee gewoonlik alles as hulle teen mekaar te staan kom.
Centurion het egter nou hul derde plek op die punteleer verstewig, terwyl Polisie tans vyfde lê.
* Nadat Naka Bulle verlede week reeds gehoor het dat hulle die nuwe houers van die Lucas Strachan skild is, omdat hulle die eerste helfte van die reeks bo aan die punteleer afgesluit het (Impala uitgesluit), het hulle die tweede rondte op ’n ewe hoë noot begin deur Harlequins met 40-0 te klop.
Die manne van die Moot het ses keer gaan druk, terwyl hul verdediging goed genoeg was om die Blokkiestruie heeltyd van die doellyn weg te hou.
Na hierdie wedstryd is die Lucas Strachan skild amptelik aan Naka Bulle oorhandig deur die Blou Bulle se Hoof Uitvoerdende beampte, dr. Eugene Hare.
* Met die Carltonbeker liga wat nou regtig warm raak, vind daar eerskomende week drie baie interessante wedstryde plaas. Naka Bulle, wat in die eerste rondte slegs met drie punte teen Tukkies verloor het, speel hierdie keer gasheer vir die studente. Centurion ontvang Impala by hul klub in die skadu van die Gautrein-spoorlyn, terwyl Harlequins sal wraak soek op hul tuisveld teen die Dragons, nadat die manne uit die noorde hulle in die eerste rondte verras het. Polisie het ’n loslootjie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
