Local sportSport

Centurion neem Carlton voortou

Die Carltonbekerreeks raak elke week interessanter en die afgelope naweek was daar weer ’n paar uitslae wat die kaarte verder deurmekaarkrap.

Die Blou Bulle se Carltonbeker liga is reeds in sy tweede rondte en elke week raak gebeure in dié toernooi net interessanter.

Terwyl Centurion weekliks hul stem al hoe dikker maak en ná die afgelope naweek se aksie nou die voortou geneem het op die punteleer, is Tukkies steeds besig om dié leer te klim, terwyl Polisie alles sal moet uithaal as hulle vanjaar in die halfeindrondte wil speel.

* Centurion, wat in die eerste rondte in Rustenburg net-net teen Impala verloor het, het daarin geslaag om die afgelope Saterdag die bordjies te verhang toe hulle die Noordwesters op hul tuisveld in Centurion met 41-31 geklop het.

Albei spanne het vier keer agter die doellyn gaan kuier, maar Centurion se puik heelagter, Gaybrin Smith, se skopvoet het die verskil gemaak. Behalwe dat hy drie van die drieë verdoel het, het hy ook met vyf strafdoele geslaag.

Smith, wat die grootste deel van die seisoen op losskakel gespeel het, se skuif na heelagter en sy puik spel daar is dalk ’n bedekte seën vir die keurders van die Blou Bulle se amateurspan later vanjaar. Daar heers tans ’n reuse stryd tussen die losskakels in die reeks, met Smith, Jean Grobler van Naka Bulle en Marnus van Rensburg van Dragons wat almal puik rugby speel. Stanley Twiname, wat terug is in die nommer tien trui vir Centurion sal ook geen span in die steek laat nie.

Die huidige nasionale losskakel van Pole, Michael Kepa, wat tans vir Harlequins speel, lyk ook na ’n baie afgeronde speler, maar dis te betwyfel of hy sal kwalifiseer om vir die Bulle se amateurspan uit te draf.

* Harlequins, wat vroeër in die reeks ’n paar van die grotes goed laat skrik het en selfs ’n skok-oorwinning oor Centurion behaal het, is besig om bietjie uit te sak, nadat hulle die naweek vir ’n tweede keer teen Dragons verloor het. Die manne van die noorde het sewe drieë op hul tuisveld teen die Blokkiestruie ingeryg om met 45-23 te wen.

Harlequins het self soms goeie rugby gespeel en drie keer gaan druk, maar hulle het eenvoudig te min van die bal gesien weens die feit dat hulle voorlangs oorheers is deur Dragons se puik pak voorspelers. As dié span sy spelers kan behou, behoort hulle ’n krag te word in plaaslike klubrugby. Hulle beskik oor ’n puik vaste vyf, terwyl hul losvoorspelers van die beste in die kompetisie is. Agter hierdie pak kan hul groot, sterk en bedrieglik vinnige losskakel, Marnus van Rensburg, baljaar. Hy het Saterdag teen Quins drie keer gaan druk om die voorste driedrukker (8) in die Carltonliga te word. Daarby het hy ’n geleerde skopvoet wat ook op dié manier die spel kan dikteer.

* Naka Bulle se langverwagte oorwinning oor Tukkies (nadat hulle die reeks in die eerste rondte oorheers het) sal tot later moet wag, nadat hulle Saterdag op hul tuisveld oortuigend deur die studente geklop is. Nadat die manne van die Moot in die eerste rondte met net drie punte teen Tukkies verloor het, was daar groot verwagtinge as die studente in Meyerstraat sou kom speel.

Tukkies het hulself egter reggeruk na hul probleme van vroeër en Naka Bulle Saterdag met 32-17 geklop. Die studente het oortuigend gewen deur vier drieë teen die tuisspan se twee te druk. Tuks se nuwe vleuel, David Pieterse, het drie keer gaan druk.

* Eerskomende naweek vind drie baie belangrike wedstryde in die toernooi plaas. Die Dragons speel tuis teen Impala en sal probeer om hul posisie op die puntelys verder te verbeter. Die twee ou aartsvyande, Tukkies en Polisie speel op die studente se tuisveld, terwyl Naka Bulle en Centurion op eersgenoemde se tuisveld in die Moot sake sal uitspook in ’n uiters belangrike stryd om die Pretoria-voorloper in die reeks te bepaal.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button