Local sportSport

Oud Klofie volg in Naas Botha se spore in Italië

Ses en twintig jaar nadat Naas Botha die rugbyspan van Rovigo in Italië gehelp het om nasionale kampioene te word, kon hulle dit vanjaar weer regkry met nóg ’n Pretorianer as haker en kaptein.

Italië is bekend as ’n sokker-mal land waar dié sport baie meer gewild is as rugby.

As daar egter een plek in dié land is waar sokker tweede viool speel teenoor rugby, dan is dit Rovigo, ’n dorp in die noord-ooste van Italië. Op dié dorp kraai rugby koning en die mense van Rovigo lewe vir hul plaaslike rugbyspan.

Die rugbyklub op die dorp is al 81 jaar oud en hulle het die nasionale kampioenskap van Italië tot voor die pas afgelope seisoen al 11 keer gewen. Probeem is net, hulle kon dit laas wen toe ’n sekere Naas Botha uit Pretoria in Suid-Afrika nog in die rooi en koningsblou trui van Rovigo uitgedraf het. Dit was 26 jaar gelede, in 1990.

Toe daag daar laat in 2015 ’n nuwe haker uit Suid-Afrika op om vir Rovigo te kom speel. Sommer in sy tweede wedstryd kry hy egter ’n rooikaart en word vir 6 weke geskors. Die dorp se mense was woedend en wou hom summier terug laat stuur Suid-Afika toe. Maar Jacques Momberg het, nadat hy in Januarie weer begin speel het, stelselmatig in die harte van die mense van Rovigo ingekruip met sy inklimspel. Hy het soveel indruk gemaak, dat hy later as kaptein van die span gekies is. Enkele weke gelede het hy toe saam met die Springbok sewesrugby speler, Stefan Basson en die senter Joe van Niekerk die eerste Suid-Afrikaners in 26 jaar geword wat sedert Naas Bothe se dae ’n nasionale titel saam met Rivigo kon wen.

Dít is in kort die verhaal van Jacques Momberg se avontuur die afgelope ses maande in Italië.

Jacques Momberg, oud Bloubul en leerling van Hoërskool Waterkloof, soos hy lyk in die trui van Rovigo, die nuwe Italiaanse rugby kampioene. Photo: Facebook
Jacques Momberg, oud Bloubul en leerling van Hoërskool Waterkloof, soos hy lyk in die trui van Rovigo, die nuwe Italiaanse rugby kampioene.
Photo: Facebook

Momberg is ’n oud Pretorianer wat sedert sy laerskooldae die Blou Bulle se trui op verskeie vlakke oor die kop getrek het. As laerskoolseun is hy nie net by die Laerskool Fleur raakgesien en vir die o.13 Cravenweekspan gekies nie, maar hy het ook op jeugklub-vlak vir die jong Bulletjies gespeel.

As leerling van Hoërskool Waterkoof het hy twee jaar vir die Bulle se o.18 Cravenweekspan gespeel, waarna hy ’n junior kontrak as professionele speler op Loftus Versfeld losgeslaan het.

Hoewel hy die o.21 Curriebeker saam met die Bulletjies gewen het en in 2011 ook deel van Tukkies se Varsitybeker kampioenspan was, het hy in 2012 ’n skuif gemaak na die Pumas, waar hy sy oud skole-afrigter, Jimmy Stonehouse, na Nelspruit gevolg het. Saam met dié spogspan uit Mpumalanga het hy die Vodacombeker in 2015 gewen, maar aan die einde van verlede jaar was hy lus vir ’n verandering. Toe die geleentheid hom voordoen is hy einde Oktober verlede jaar Italië toe om ’n nuwe rugby-avontuur te begin en op die koop toe sy salaris in Euro’s te verdien.

Momberg vertel dat hy egter klippe gekou het in daardie eerste drie maande. Behalwe vir die rooikaart-debakel moes hy by die kultuur, die weer en ’n vreemde taal aanpas.

“Die mense was onvriendelik oor my rooikaart en skorsing en die koerante het negatief oor my geskryf,” het hy aan Rekord vertel. Hy het besluit om vas te byt en toe sy skorsing verby is, het hy stelselmatig vir die mense van Rovigo gewys dat hy inderdaad ’n kwaliteit rugbyspeler is.

Gelukkig is Rovigo se afrigter, die bekende oud All Black Joe McDonald, darem Engels magtig en hy en Momberg het gou ’n goeie verhouding gebou. Halfpad deur die seisoen het McDonald hom genader om die kapteinskap van die span oor te neem en Momberg, in Pretoria bekend as ’n natuurlike leier, het nie weggeskram van dié uitdaging nie.

Toe Rivigo dus in die finaal van die nasionale liga vir Calivisano met 20-13 klop was dit Jacques Momberg, die oud Klofie van Pretoria, wat die groot silver beker kon ontvang wat die plaaslke stadion se mense rasend van vreugde gehad het.

“Die dorp se mense het dae lank feesgevier. Daar was selfs spesiale byeenkomste op die dorpsplein waar tot 17000 mense bymekaargekom het en ons as spelers is soos helde op die hande gedra”, het Momberg vertel.

Na die moeilike begin is Momberg deesdae dolgelukkig in Italië. Hy neem gereeld Italiaanse klasse om die taal onder die knie te kry en sy nuwe doelwit is om oor drie jaar te kwalifiseer om vir Italië se nasionale span te speel.  Wie weet, dalk sien ons by die volgende wêreldbeker toernooi in Japan ’n Boerseun uit Pretoria in die kleure van Italië.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button