Atlete sweet vir Bybelverspreiding
Twee atlete van Pretoria het besluit om hul deelname aan vanjaar se Comrades marathon as geleentheid te gebruik om geld in te samel vir die Bybelgenootskap.

Jaarliks is daar heelwat entoesiastiese atlete wat hulle kragte en talente inspan om dit vir duisende ander moontlik te maak om ‘n Bybel te bekom.
Hierdie atlete besluit self watter wedloop hulle vir Bybels wil hardloop – enige marathon, halfmarathon of pretdraf kan vir die doel gebruik word.
Douw Prinsloo van Pretoria het aan die begin van die jaar betrokke geraak by die Bybelgenootskap en het besluit om in plaas van net die gebruiklike debietorder, eerder te hardloop vir Bybels. Só het die organisasie Run4BibleRands ontstaan.
Prinsloo dra persoonlik een rand by tot die Run4BibleRands fonds vir elke kilometer wat hy elke maand in wedlope gehardloop het. Die geld word dan aan die Bybelgenootskap se ‘Hardloop vir Bybels’ projek gegee.
Nie lank nadat hy met hierdie projek begin het nie, het ’n vriendin van hom, Cornelia Hutchinson, besluit om ook haar wedlope as ywerige atleet te laat tel vir meer as net die fisieke voordeel wat sy daaruit kry. Met hierdie projek het die twee vriende in die eerste paar maande van hierdie jaar gesamentlik meer as R3000 vir die Bybelgenootskap ingesamel.
Volgens Prinsloo gee ’n doelwit soos hierdie net soveel meer betekenis aan wat hulle doen.
“Ek self kom uit ‘n agtergrond waar ek baie oorgewig was en net eendag besluit het om my lewe reg te ruk. Ek het 53 kilogram verloor en het letterlik een uiterste na die ander gegaan – van iemand wat niks gedoen het nie tot iemand wat die vanjaar sy derde Comrades marathon suksesvol voltooi het,” het Prinsloo vertel.
Hy vertel verder dat hy en Hutchinson besluit het om vanjaar ook hul Comrades wedlope op te dra aan die Bybelgenootskap se ‘Hardloop vir Bybels’ projek. Hulle het dus in April begin met die bemarking van hul projek om borge te werf. Alhoewel die konsep agter die ‘Hardloop vir Bybels’ projek eintlik gemik is daarop om borgskappe per kilometer te kry, het hulle spoedig agtergekom mense gee veel eerder ’n donasie ter ondersteuning. Hulle het basies van sosiale media soos Facebook en Twitter gebruik gemaak om die inisiatief bekend te stel en ook hul vriende op whatsapp genader.
“Ons het eerlikwaar gedink ons sal dalk so R3000 kan insamel tussen die twee van ons, maar die dag voor die Comrades het ons reeds die R10 000 merk oorgesteek,” het hy gesê.
Die twee vriende het uiteindelik albei vanjaar se Comrades marathon gemaklik onder 11 ure voltooi en ’n week later is hulle verras deur nog donasies wat ontvang is. Dit het hulle in staat gestel om die projek uiteindelik af te sluit deur ’n bedrag van R14 323-30 oor te betaal aan die Bybelgenootskap van Suid Afrika.
“Vir elke R46 wat ons ingesamel het sal een Bybel gratis beskikbaar gemaak word. Dit beteken met ons bedrag alleen sal daar 311 Bybels gratis versprei kan word,” het Prinsloo trots gesê.
Atlete wat betrokke wil raak by Prinsloo en Hutchinson se toekomstige projekte kan sy webwerf besoek by www.myownjourney.co.za/run4biblerands.htm
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord onFacebook, follow us on Twitter or Instagram.
- We have exciting news! We’re offering a free alert to help you always be in the loop. Send an email with the word ‘Subscribe’ to breakingnews@rekord.co.za to receive your free daily breaking news update.
