Tukkies uit Carltonbeker eindstryd oor tegniese punt
Tukkies is hul plek in vanjaar se Carltonbeker eindstryd kwyt, nadat hulle uitgeskop is weens die oortreding van die kompetisiereëls.
Tegniese toepassing van die kompetisiereëls het vir die tweede jaar agtereenvolgens ’n invloed gehad op die uitspeelrondtes van die Blou Bulle se gesogte Carltonbeker klubkompetisie.
Tukkies is Donderdagaand skuldig bevind aan ’n tegniese oortreding van die Carltonbeker kompetisiereëls en dienooreenkomstig is hulle uitgeskop uit die eindstryd teen Centurion, wat op Saterdag 13 Augustus gespeel sal word. Tukkies word in dié eindstryd vervang deur Naka Bulle, wat verlede naweek teen hulle in die halfeindstryd verloor het.
Na afloop van die halfeindstryd is daar ’n klagte teen Tukkies ingedien oor drie punte in die kompetisiereëls wat oortree is. Die Kompetisiekomitee van die Blou Bulle Rugby-unie het die saak ondersoek en bevind dat Tukkies wel die reëls oortree het. Daar is aanbeveel dat hulle hul plek in die eindstryd moet verloor en deur Naka Bulle vervang moet word. Dié aanbeveling is daarna deur die Uitvoerende Komitee van die Blou Bulle Rugby-unie bekragtig.
Dit beteken dus dat Tukkies nie hul titel as Carltonbeker kampioene sal kan verdedig nie en dat daar vir die eerste keer sedert 2012 ’n nuwe kampioen gekroon sal word, nadat die studente die toernooi die afgelope drie jaar gewen het.
Hierdie skokkende verloop van sake is inderdaad ironies in die lig van gebeure verlede seisoen, toe Naka Bulle aan die ontvangkant van ’n soortgelyke optrede van die Kompetisiekomitee was. Dié klub het die halfeindstryd van die Carltonbeker kompetisie verlede seisoen misgeloop, nadat hulle ligapunte verloor het toe hulle ook op ’n tegniese punt aan ’n oortreding van die reëls skuldig bevind is.
Naka Bulle se bestuur het hulle verlede seisoen selfs tot die Hooggeregshof gewend, waar hulle ’n interdik aangevra het om tyd te wen om hul saak te probeer beredder, maar nadat hul aansoek afgekeur is, het die uitspeelwedstryde sonder hulle voortgegaan. Na onderhandelings met die Blou Blle Rugby-unie se bestuur het Naka Bulle daarna ter wille van rugby hul saak laat vaar. Daar kan egter geen twyfel wees dat die unie se Kompetisiekomitee in die lig van verlede jaar se gebeure onder druk was om konsekwent te wees toe daar hierdie week oor die drie klagtes teen Tukkies besluit moes word nie.
Dr. Eugene Hare, Hoof Uitvoerende Beampte van die Blou Bulle Rugby-unie, het aan Rekord gesê dié gebeure is sleg vir klubrugby en dat hy bitter teleurgesteld is daaroor. Volgens Hare het hy ’n paar weke voor die uitspeelfase van die Carltonbeker kompetisie ’n skrywe na al die klubs gestuur om die reëls van die toernooi onder hul aandag te bring. Die feit dat Tukkies ten spyte daarvan steeds skuldig bevind is aan oortredings van die reëls maak dié teleurstelling volgens hom soveel groter.
Gert van Coller, klubbestuurder van TuksRugby, het aan Rekord gesê dié klub se bestuur is besig met ’n dringende ondersoek na die aangeleentheid en hul hou hul opsies oop om teen die beslissing te appelleer. As daar egter bevind word dat hulle wel die reëls van die kompetisie oortree het, sal hulle die beslissing moet aanvaar.
Die voorsitter van Naka Bulle, Ian Herbst, het die ironie van die jongste gebeure beklemtoon. “Verlede jaar was dit ons wat uit die halfeindrondte geskop is op ’n tegniese punt. Nou kry ons weens Tukkies se tegniese oortreding van die reëls ’n kans om in die eindstryd te speel. Dis jammer dat dit moes gebeur, maar ten minste was daar nou konsekwentheid,” het Herbst gesê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
