Local sportSport

Centurion is Carltonbeker kampioen

Centurion rugbyklub kan die Blou Bulle se gesogte Carltonbeker vir die eerste keer in 17 jaar weer in hul vertoonkas laat pryk.

Getroue ondersteuners van Centurion rugbyklub moes 17 jaar daarvoor wag, maar die vreugdes-tonele wat Saterdagaand op Loftus Versfeld se B-veld afgespeel het, het gewys dié wag was die moeite werd.

Centurion het Naka Bulle in die eindstryd om die Blou Bulle se gesogte Carltonbeker met 12-3 geklop.

Soos vooraf verwag was dit ’n baie harde stryd, wat tot in die laaste minute nog in die weegskaal was. Centurion het sy neus in die negende minuut van die eerste helfte voor gekry met ’n strafdoel deur heelagter Gaybrin Smith .

Naka Bulle se jong agtsteman, Jean-Pierre Alberts, het halfpad deur die eerste helfte die telling gelyk laat trek met ’n strafdoel. Dit was egter die laaste punte wat die manne van die Moot kon aanteken.

Smith het kort daarna weer met ’n strafdoel geslaag om die voorsprong aan Centurion terug te besorg en daarvandaan het hulle regdeur voorgeloop.

Na tien minute in die tweede helfte het Smith weer met ’n strafdoel geslaag. Hierna het die stryd intenser geword en Naka Bulle wou met alle mag en mening die agterstand met ’n doel uitwis. Hul strategie was in dié opsig waarskynlik verkeerd, aangesien hulle verskeie kanse om met strafskoppe pale toe te mik verbeur het deur met vinnige tikskoppies aan te val. Centurion se verdediging het egter gehou en Naka Bulle kon nooit die doellyn haal nie.

Daar was werklik min te kies tussen die twee spanne, maar Naka Bulle se enkele strategiese foute het hulle waarskynlik die kans gekos om die beker vir die eerste keer omhoog te hou. Die twee pakke voorspelers het mekaar opgedreun, maar Naka Bulle het beslis die oorhand in die skrums gehad. Hulle was ook effektief in die lynstane en daarom was hul keuse van vinnige tikskoppies vreemd en waarskynlik fataal.

Centurion se wedstrydplan was klassiek vir ’n eindstryd soos dié. Hulle het op die basiese gekonsentreer en elke kans om punte aan te teken gebruik. Centurion se fiksheid het hulle ook deurgedra en hierin kon die hand van die wêreldbekende spesialis op dié gebied, Neels Liebel, duidelik gesien word. Hul swaar pak voorspelers het verras deur enduit by te hou.

Die keerpunt in die wedstryd het vyftien minute voor die eindfluitjie gekom met ’n reuse skepdoel van byna 50 meter deur Stanley Twiname, losskakel van Centurion. Dié briljante seun van oud Bloubul, Donovan, het sy tweestryd met sy gewese spanmaat, Jean Grobler, gewen en hy het weer gewys dat hy maklik Curriebeker rugby kan speel. Nie een van die losskakels in die huidige Bloubul Curriebeker opset het dieselfde instink en natuurlike talent waaroor Twiname in oorvloed beskik nie.

Ná Twiname se skepdoel moes Naka Bulle skielik die telling jaag en meer as een keer punte aanteken om te wen. Al wat Centurion se manne toe moes doen was om op hul fiksheid staat te maak en deeglik te verdedig. Dit het hulle goed gedoen en daarom is hulle die kampioen.

* Tukkies se Fezelas is kampioen onder die tweedespanne in die Carltonliga, nadat hulle Dragons met 34-22 geklop het in die eindstryd.

Dragons se derdespan het op hulle beurt met Polisie afgereken (15-14) om dié liga te wen.

Onder die Juniors was albei Tukkies se spanne baas. Hul o.21 Jongspan het Dragons met 74-11 verslaan, terwyl hul o.20’s net-net vir Naka Bulle kon klop. Die eindtelling was 27-22.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button