Internasionale ster leer skooldogters meer oor netbal
Een van die wêreld se beste netbalspelers van die afgelope dekade het verlede week twee netbalklinieke by die Hoërskool Pretoria-Noord aangebied.

Leana de Bruin is een van die enkele netbalspelers uit Suid-Afrika wat internasionale netbal vir twee verskillende lande gespeel het.
As jong netbalster het sy in 34 toetse vir die Proteas gespeel, voordat sy na Nieu-Seeland verhuis het. Daar het sy gou haar merk gemaak en in 2003 het sy haar eerste toets vir die land van die Silver varing gespeel. Sy is ook een van die enkele spelers ter wêreld wat vir twee verskillende lande aan ’n wêreldbeker toernooi deelgeneem het. Sy het uiteindelik in vyf wêreldbeker ternooie gespeel.
Hoewel Suid-Afrika nie onder die top drie spanne kon eindig in haar eerste wêreldbeker toernooi nie, het De Bruin as deel van Nieu-Seeland se nasionale span twee wêreldbeker medaljes gewen. In 2003 was hulle die kampioen en in 2007 moes hulle met die silwer medalje tevrede wees. As deel van die Silver Varings, soos Nieu Seeland se nasionale netbalspan bekend is, het sy ook twee goue medaljes (2006 en 2010) by die Statebond Spele gewen.
Na enkele jare in Nieu-Seeland het De Bruin by hul professionele liga betrokke geraak en sommer gou een van die sterre in die bekende ANZ kampioenskap geword. In 2011 is sy as die mees waardevolle speler in dié professionele kampioenskap aangewys. In 2015 was sy die Waikato provinsie se Sportvrou van die Jaar.
Hoewel die 39-jarige doel-verdediger, wat 1,90m in haar sokkies staan, amptelik uitgetree het as professionele speler, speel sy steeds op kompeterende vlak, maar haar hart lê deesdae by afrigting.
Dis juis in hierdie hoedanigheid dat netbalspelers van laer- en hoërskole in die noorde van Pretoria verlede week met haar kennis en ervaring verryk kon word. Sy het twee klinieke (een vir laer- en een vir hoërskole) by die Hoërskool Pretoria-Noord aangebied.
De Bruin het die skooldogters ’n deeglike les in alle aspekte van netbal gegee en baie van hulle het dinge oor dié sport geleer waarvan hulle nog nooit gehoor het nie. Aspekte soos fiksheid, voetwerk, vaardighede, aanval en verdediging is in detail behandel by die klinieke.
Erika Steyn, netbalhoof by Hoërskool Pretoria-Noord het aan Rekord gesê hulle is tevrede met die sukses van die klinieke. Hulle beplan om hierdie klinieke ’n jaarlikse instelling te maak. Volgens haar sal hulle in die toekoms ook meer skole probeer betrek en nie net kyk na skole in die noorde van Pretoria nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
