Noord-Gauteng Stoei vereer presteerders
Noord-Gauteng Stoei se jaarlikse prestige toekenningsgeleentheid was weer ’n getuienis dat Pretoria se mense ook in dié sport leiers op elke vlak is.
Noord-Gauteng Stoei is vir baie jare al die voorste stoeivereniging in Suid-Afrika en vanjaar was geen uitsondering nie.
Dit is bewys op dié vereniging se prestige toekenningsaand, wat verlede week op ’n spog-landgoed oos van Pretoria aangebied is. Verskeie stoeiers, afrigters en beamptes is vereer vir hul prestasies in 2016.
Die vereniging het in 2016 gegroei en twee nuwe klubs het Noord-Gauteng stoei se totaal gevestigde klubs op 12 te staan laat kom. Daar is ook die vooruitsig van nuwe klubs en satellietklubs wat in die nuwe jaar geaktiveer sal word as deel van die verenging se ontwikkelingsplan.
Noord-Gauteng Stoei spog ook deesdae met 31 geregistreerde beamptes en dit stel hulle natuurlik in staat om van die land se grootste en suksesvolste toernooie jaarliks aan te bied. So het die vereniging vanjaar weer met sukses die Johnnie Reitz Big 5 Ope toernooi aangebied wat meer as 500 stoeiers vanoor die hele land gelok het. Tydens hierdie toernooi word 700 stoeigevegte op een dag in dieselfde saal aangebied.
Die vereniging het ook die bekende konsep van hul Bulletjie-toernooie voortgesit, waar jonger beginner-stoeiers kans kry om aan georganiseerde toernooie deel te neem. Dan is daar die Jeug- en Senior provinsiale kampioenskappe, die Kadette toernooi, die Presidente toernooi, die vereniging se klubligas met drie afdelings en ook die gewilde skoleliga, waaraan 12 laerskole deelneem.

Foto: Hugh Frost
Noord-Gauteng Stoei ken jaarliks provinsiale kleure toe aan presteerders op plaaslike vlak en dit geskied in drie kategorieë, wat van mekaar onderskei word deur die agtergrond van die skild waarop die bekende madeliefie van Noord-Gauteng pronk. Altesaam 244 stoeiers het vanjaar hul provinsiale kleure verwerf.
Hierdie stoeiers het hul vereniging met trots en onderskeieding verteenwoordig, soos getuig word deur die feit dat Noord-Gauteng Stoei 12 van die potensiële 19 trofees gewen het by nasionale byeenkomste. Die streek waarvan Noord-Gauteng Stoei deel is het ook die streektrofee ingepalm, terwyl die vereniging se Bulls-span die gesogte Noordvaal liga vir die 13de keer gewen het.
Tydens nasionale kompetisies, vanaf jeugtoernooie tot by die meesters, het stoeiers van Noord-Gauteng vanjaar in 14 verskillende toernooie 130 medaljes gewen. Dit sluit in 49 goud, 41 silwer en 40 brons.
Verskeie stoeiers van Noord-Gauteng het ook hul land die afgelope jaar op die stoelmat verteenwoordig. In hierdie aspek staan die vereniging se meesters weer uit, met 12 meesters stoeiers wat aan die wêreld meesters kampioenskappe deelgeneem het. Onder hulle het Duane van Staden die beste prestasie gelewer deur goud te verower met ’n eerste plek. Daar was ook vyf silwer medalje wenners onder hulle, terwyl ses ander vyfde plekke behaal het.
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord onFacebook, follow us on Twitter or Instagram
