Grizzlies se Madalas wys ware gees van rugby
Die Grizzlies se Madalas, wat onlangs aan die Tshwane 10’s deelgeneem het, was ’n baie besondere span wat waarskynlik geskiedenis gemaak het weens hul samestelling.

Die Grizzlies, Tuine Sportklub se rugbyspanne, is bekend vir entoesiasme en die passie waarmee hulle rugby speel.
Tuine Sportklub dwing ook groot respek af by ander klubs in Pretoria vir die vordering wat daar gemaak word om as ware gemeenskapsklub in die weste van Pretoria gevestig te word.
Die respek wat ander klubs vir die Grizzlies in rugbykringe het, is onlangs weer bewys tydens die eerste Tshwane 10’s toernooi, wat by Harlequins aangebied is.
Jaco Olivier, voorsitter van Tuine Sportklub en president van die Grizzlies was verantwoordelik vir die samestelling van dié klub se ‘Madalas’ span, wat in die sogemaande ‘Golden Oldies’ liga ingeskryf het. Olivier het toe besluit om sy span só saam te stel dat vriendskapsbande tussen verskillende klubs in Pretoria daardeur verstewig kon word.
Hy het dit reggekry om die adjunk president van die Blou Bulle Rugby-unie en voorsitter van die Dragons rugbyklub, Henry Adendorff, en drie ander klubvoorsitters te oortuig om Grizzlies truie oor die kop te trek en vir dié klub in die “ouman” liga te speel. Twee ander voorsitters van Carltonbeker klubs, Ben Eybers van Harlequins en Ian Herbst van Naka Bulle en Dino Slabbert, voorsitter van Grizzlies se Jeugklub, het saam met Adendorff en Olivier vir die Grizzlies se Madalas uitgedraf.
Ander spelers in hul span was Oliver se pa, BBC Olivier, wat ook Tuine Sportklub se terreinbestuurder is en Burger Maritz, Harlequins se Jeugklub Ondervoorsitter. Oliver het selfs ’n Bloubul skeidsregter, Johan Heymans, by sy span betrek.
Al hierdie manne was in ten minste een wedstryd gelyktydig op die veld as spanmaats en Grizzlies het boonop dié wedstryd gewen. Olivier glo dít is ’n feit vir die rekordboeke.
Hoewel die Grizzlies se Madalas in die halfeindrondte uitgeskakel is deur ’n span vol oud Springbokke en gewese professionele spelers, glo Olivier dat hy sy doel bereik het met hierdie mengelmoes span.
“Die toekoms van klubrugby is gemeenskapklubs wat in verskillende streke van Pretoria gevestig is en deur hul gemeenskappe ondersteun word. Tog het hierdie klubs mekaar nodig en daar is geen rede waarom ’n gees van vyandigheid in klubrugby hoef te heers nie. Met hierdie unieke prestasie van die Grizzlies se Madalas het almal betrokke bewys dat hulle verstaan dat ons liefde vir rugby ’n gemeenskaplike faktor is wat ons in staat kan stel om al ons verskille te kan uitsorteer”, het Olivier aan Rekord gesê.
“Uiteindelik is rugby net ’n spel en ons moet dit saam kan geniet. As ons dit nie meer kan doen nie, sal ons geliefde spel daaronder ly,” het Olivier afgesluit.
Volgens Olivier wil hy hierdie proefneming in die toekoms uitbou en jaarliks ’n span by die Tshwane 10’s inskryf wat uit ampsdraers van verskillende klubs bestaan.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
