Blou Bulle vereer amateur- en klubspelers
Die Blou Bulle Rugby-unie het onlangs die afgelope seisoen se top presteerders in klub- en amateurrugby vereer.

Die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU) het onlangs hul eerste toekenningsgeleentheid in die modern era aangebied, waartydens amateur- en klubspelers, afrigters en administrateurs vereer is vir hul prestasies in 2016.
Dr. Eugene Hare, Hoof Uitvoerende Beampte van die BBRU, het vooraf gesê dat hulle hoop om die toekennings ’n jaarlikse instelling te maak. Hy het ook beklemtoon dat amateur- en klubrugby in Pretoria tans baie gesond is en dat vanjaar se Carltonbeker klubtoernooi een van die bestes in baie jare was.
Die toekennings is in drie afdelings gemaak. Daar is eerstens gekyk na klubrugby, terwyl provinsiale amateurrugby tweedens aan die beurt gekom het. Derdens is meriete sertifikate oorhandig aan persone en instansies wat ’n besondere bydrae tot amateur- en klubrugby gemaak het.
WJ Strydom, ’n baie belowende vleuel/heelagter van Tukkies, is as die Carltonbeker (A-afdeling) se speler van die jaar aangewys. In die B-afdeling het Claude Johannes van TUT met die louere weggestap terwyl die C-afdeling se beste speler Chris Ebersohn van Hartebeespoort was.
Morné Ferreira is as die beste skeidsregter in klubrugby aangewys. Die Carltonbeker afrigter van die jaar is Riaan Brand van Centurion, wat dié span vanjaar tot Carltonbeker kampioene gebrei het. Die Dragons, wat die Carltonbeker A-afdeling vanjaar met ’n knal getref het, is as klub van die jaar aangewys.
Die BBRU se amateur plattelandspan (gekies uit Carltonbeker B-afdeling spanne) se beste speler was Kyle Ras van Korrektiewe Dienste. Die beste speler in die Limpopo o.20 span was Juvan Stimie, terwyl Johan Grobler as die provinsiale mansspeler van die jaar aangewys is. Die vrouespeler van die jaar was Ntabiseng Marutla.
Wat sewesrugby betref is WJ Strydom van Tukkies ook as die beste speler bekroon. Die prys vir beste vroue sewes speler word gedeel deur Nadine Roos en Libbie Janse van Rensburg.
Neels Grobler, spanbestuurder van die Limpopo o.20 span, is as spanbestuurder van die jaar aangewys, terwyl Marinus van der Wath as afrigter van die jaar bekroon is. Die skole afrigter van die jaar is Jan-Hendrik Hattingh.
Meriete sertifikate is aan sewesrugby afrigters en administateurs soos Fielies Coetzee, Rouan Cloete en Jannie Robbertse oorhandig. ’n Paar media-persone soos Johanna de Vos en Morris Gilbert is ook op hierdie manier vereer, terwyl borge van die unie, waaronder Assupol en ABE Midas, ook meriete sertifikate ontvang het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:















