Goeie gees heers weer by Overkruin se 3-in-1 wedloop
Overkruin atletiekklub se 3-in-1 wedloop was weer ’n groot sukses ten spyte van die feit dat hulle met die Om Die Dam ultramarathon moes meeding.
Overkruin Atletiekklub se jaarlikse Budget 3-in-1 padwedloop is die afgelope naweek weer met groot sukses in Montana aangebied.
Hoewel daar nie soveel atlete opgedaag het soos verlede jaar nie, was die organiseerders steeds tevrede met die opkoms. ’n Woordvoerder van die klub het aan Rekord gesê die wedloop het ongelukkig op dieselfde datum geval as die bekende Om Die Dam Ultramarathon by Hartbeespoortdam, wat uiteraard veroorsaak het dat die opkoms nie so groot was soos in die verlede nie.
Nietemin het ’n paar duisend atlete vroegoggend aangetree vir die wegspring van die 21.1km halfmarathon, terwyl daar ook ’n 10km wedloop en ’n 5km pretdraf gevolg het.
Getrou aan die tradisie wat in die kort bestaan van die weloop opgebou is, was die gees onder die atlete weer besonder goed, terwyl hulle die stywe roete deur die strate van Montanapark aangepak het. Die wedloop het op die parkeerterrein van die Kollonade winkelsentrum geëindig, terwyl atlete ook in die straat reg langs die sentrum weggespring het.
Die unieke konsep van die wedloop se waterpunte dra ook by tot die goeie gees. Die organiseerders nooi jaarliks skole in die omgewing om die waterpunte te beman, en die verskillende punte ding dan met mekaar mee om die Rekord Geestrofee in te palm. Vir dié trofee, wat deur Rekord toegeken word, word die spanne by die waterpunte beoordeel op grond van hul oorspronlikheid, die moeite wat hulle gedoen het om hul waterpunt ’n aangename lafenis-ervaring vir die atelete te maak, en die algemene gees wat heers by die waterpunt tydens die wedloop.
Die Hoërskool Overkruin het vanjaar lede van drie van hul sportspanne ingeskryf om teen mekaar mee te ding by die waterpunte. Die krieketspelers het uiteindelik die trofee ontvang, nadat hulle met die hokkiespelers en die landloopspan afgereken het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:










































