Blou Bulle klop Griekwas in opwindende tweestryd op Loftus Versfeld
Ten spyte van verdagte verdediging het die Blou Bulle daarin geslaag om die Griekwas Vrydagaand op Loftus Versfeld naelskraaps in 'n hoë-tempo wedstryd te klop.
Die Blou Bulle is weer op die wenpad, nadat hulle Griekwas Vrydagaand op Loftus Versfeld in ’n opwindende Curriebeker wedstryd met 44-42 geklop het.
Marnitz Boshoff se skopskoen het egter die verskil gemaak, aangesien die besoekers uit die Noord-Kaap ses keer agter die doellyn gaan kuier het, terwyl Nic de Jager se manne slegs vyf keer kon druk.
Die wedstryd het teen ’n duiseligwekkende tempo begin en die handjievol toeskouers op Loftus Versfeld het gou rede tot opgewondenheid gehad toe die Blou Bulle se linkervleuel Rabs Maxwane ’n puik beweging langs die pale kon afrond vir die eerste punte van die wedstryd.
So goed soos die Blou Bulle se aanvallende intensies was, so swak was hul verdediging ’n paar minute later toe Ederies Arendse sake gelyk gemaak het met ’n drie vir Griekwas.
Daarna het die wedstryd ontaard in ’n een-vir-my, een-vir-jou wipplankstryd wat baie opwindende aanvallende spel opgelewer het, terwyl die verdediging aan albei kante egter soms broekskeur was. Teen rustyd was die telling reeds 27-21 in die tuisspan se guns, maar die verskil was twee strafdoele deur die Blou Bulle se nuwe losskakel, Marnitz Boshoff. Albei spanne het teen daardie tyd reeds drie keer gaan druk.
In die tweede skof het albei spanne hul hardlooprugby patroon voortgesit, maar teen die einde was dit duidelik dat die hoë tempo van die wedstryd sy tol begin eis. Die Bulle was op een stadium gerieflik met 41-21 voor, maar Griekwas het in die laaste twintig minute teruggekom en so byna die knoop deurgehaak.
Die manne uit Kimberley het nooit gaan lê nie en hulle sesde drie is gedruk terwyl die toeter in die agtergrond loei. Gelukkig vir die Blou Bulle het Tony Jantjies ’n minuut tevore met ’n strafdoel geslaag, anders was hul Curriebeker veldtog waarskynlik daarmee heen.
Hoewel die Blou Bulle se opwindende spel op die aanval positiewe seine na hul ondersteuners sou stuur, was dit eerder die manne se skrumwerk wat die oë laat rek het. Griekwas het tot dusver vanjaar goed gevaar in die vaste skrums, maar hulle het geen raad gehad met die jong en grootliks onervare agttal van die Blou Bulle se skrumwerk nie.
Albei spanne sal egter aan hul verdediging moet werk as hulle met die voorlopers in die komeptise wil saamgesels tot die einde toe.
PUNTEMAKERS:
BLUE BULLS: 44 Drieë: Rabs Maxwane, Dayan van der Westhuizen, Manie Libbok (3). Doelskoppe: Marnitz Boshoff (5). Strafdoele: Marnitz Boshoff (2), Tony Jantjies (1)
GRIEKWAS: 42 Drieë: Ederies Arendse (2), Tian Meyer, Whandile Putuma, AJ Coertzen (2) Doelskoppe: André Swarts (3), George Whitehead (3).
Skeidsregter: AJ Jacobs
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:







