Local sportSport

TUT is Carlton B-liga kampioen

Die kampioene in die Blou Bulle se Carlton B- en C-ligas is Saterdag op Loftus Versfeld gekroon.

Die eerste rugbyspan van TUT het hul titel as Carltonbeker B-liga kampioen Saterdag op Loftus Versfeld suksesvol verdedig toe hulle Korrektiewe Dienste met 41-26 in die eindstryd geklop het.

TUT het dié liga (voorheen die Eersteliga) ook verlede jaar gewen, nadat hulle vrywillig afgeskuif het vanaf die Carltonbeker liga.

Die Carltonbeker C-liga (voorheen die Presidentesliga) se eindstryde is ook Saterdag op Loftus Versfeld se B- en C-velde afgehandel. Daarmee is een van die suksesvolste seisoene in baie jare vir die Blou Bulle se amptelike klubligas afgesluit.

* Die kwaliteit van die rugby wat opgedis is in die eindstryd van die B-liga het bewys dat die standaard van dié liga beslis verbeter het.

Onder die besielende leierskap van agtsteman Gerrie du Plessis het Korrektiewe Dienste gewys dat hul kliniese oorwining oor Tuine in die halfeidstryd nie ’n vloekskoot was nie. Met die puik skrumskakel, Tienie Nel, weer die spil waarom hul aanvalle gedraai het, moes TUT hul keer ken en teen rustyd kon enige van die twee spanne nog die wedstryd wen.

’n Skitterende drie deur TUT se groot slot, William Thompson, waarvoor hy sowat 50 meter ver onder die manne van Korrektiewe Dienste uitgenael het, het die studente se aanslag kort na die afskop in die tweede helfte ingelui. Hierna was TUT gerieflik voor en, ten spyte van die feit dat hulle nooit gaan lê het nie, kon die Likewane nooit weer binne trefafstand kom op die telbord nie.

* Korrektiewe Dienste se rugbyklub het darem nie met leë hande huis toe gegaan nie. Hul tweedespan is as kampioen gekroon toe hulle Baviaanspoort met 37-5 geklop het.

In die eindstryd vir derde spanne het Cullinan met Tuine se Grizzlies afgereken. Die eindtelling was 25-13.

* Bronkhorstspruit het hul oorheersing van die Carlton C-liga bevestig deur twee titels in te palm. Hul eerstespan is as kampioen gekroon toe hulle Transnet Parke met 23-12 geklop het. Die uitstaande kenmerk van dié wedstryd was egter die skitterspel van Transnet Parke se skrumskakel, Henry Breytenbach, wat sy span bykans man-alleen deurgaans in die wedstryd gehou het. Senior Carltonbeker klubs kan dié man gerus volgende jaar na hul proewe nooi, want hy hoort in ’n baie hoër liga.

Bronkhorstspruit se tweedespan het in ’n opwindende wedstryd met Noordelikes afgereken om nóg silwerware vir dié klub uit die verre ooste van Tshwane te verseker.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button