Local sportSport

Rekord-vangste by hengeldag vir gestremdes

Die vis in die Irene Country Lodge se dam was die afgelope naweek baie gewillig om te byt tydens Ramcat Fish se jaarilkse hengeldag vir gestremde hengelaars.

Die jaarlikse Ramcat Fish hengeldag vir gestremde hengelaars is die afgelope naweek in Irene aangebied en volgends die organiseerders was dit hul mees suksesvolle dag tot dusver.

“Die sirene het om presies 07:00 Saterdagoggend geloei om die amptelike begin van die dag aan te kondig en twee minute later is die eerste vis uitgetrek. Ons het beslis die beste vangste in die bestaan van die kompetisie beleef,” het Gerard Smal, organiseerder van die kompetisie aan Rekord gesê.

Dirk Moll, een van die veterane van die kompetisie, was die gelukkige hengelaar wat die eerste vis uitgetrek het. Moll is bygestaan deur sy gereelde helper, Berny Busset. Volgens die reëls van die kompetisie moet die gestremde hengelaars die vis self uittrek, maar hulle mag deur helpers bygestaan word om die vis uit die water en van die hoek af te haal.

Gestremde hengelaars het van oral oor Gauteng én selfs uit ander provinsies opgeruk vir dié spesiale dag waartydens hulle langs die viswater kan ontspan saam met mede gestremde liefhebbers van dié gewilde sport. Volgens Smal was die belangstelling vanjaar besonder groot en hulle het meer inskrywings aanvaar het as wat oorspronklik beplan is. Tog het hulle steeds belangstellendes weggewys omdat die dam by die Irene Country Lodge eenvoudig te klein is om almal te akkomodeer.

Tydens Rekord se besoek Saterdagmiddag was Justin Wair van Mpumalanga die voorloper met die grootste vis tot op daardie stadium. Smal het verduidelik dat dié hengeldag eintlik nie ’n ernstige kompetisie is nie, hoewel die hengelaar wat die grootste vis uittrek daarvoor erkenning kry met ’n prys. Danksy vrygewige borge is die Ramcat Fish organisasie egter in staat om aan elke deelnemer ’n prys te gee, hoe gering dit ookal mag wees.

Ramcat Fish het die hengeldag ’n paar jaar gelede begin met die oorspronklike gedagte om weermagveterane, wat gestremd is weens beserings wat hulle in diens van die voormalige Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) opgedoen het, die geleentheid te gee om saam langs die viswater te ontspan. Intussen is die dag uitgebou en deesdae is dit waarskynlik die grootste jaarlikse sosiale saamtrek van gestremde persone in Pretoria.

Daar is egter steeds ’n noue betrokkenheid van weermagveterane en vanjaar het Jaco Lötter van die Suid-Afrikaanse Legioen, die oudste organisasie ten bate van weermagveterane in die land, ook die verrigtinge bygewoon. Lötter het belangstellendes uitgenooi om hul Facebook blad onder SA Legioen’ te besoek en hul bedrywighede te ondersteun.

Nog ’n relevante organisasie wat vanjaar deel was van die aksie by die Ramcat Fish hengeldag, is die Suid-Afrikaanse Varswater Oewerhengel Federasie se afdeling vir gestremde hengelaars. Riaan Bornman van dié organisasie, wat self ’n kwadrupleeg is, het aan Rekord vertel dat hulle groot sukses behaal met hul sosiale hengelkompetisies, waarvan daar jaarliks vyf reg oor die land aangebied word. Volgens Bornman vind die organisasie se nasionale kampioenskap later vanjaar by die Vaaldam plaas en hy het gestremde hengelaars ook uitgenooi om hul Facebook blad onder ‘Freshwater Fishing for the Disabled’ te besoek.

Gestremde deelnemers aan Saterdag se Ramcat Fish hengeldag is oudergewoonte bederf met heerlike etes wat deur die Irene Country Lodge berei is, terwyl daar tot laatmiddag langs die dam gekuier is.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button