Local sportSport

Voormalige ster snelbouler word afrigter by Sinoville Krieketklub

Die Sinoville Krieketklub betree ’n uwe era in hul 35ste bestaansjaar en hul nuwe afrigter sal ook ’n boul-akademie by dié klub vestig.

Mario Olivier, ’n voormalige ster van die Titans, wat ook die Warriors en Cape Cobras verteenwoordig het, is aangestel as nuwe hoofafrigter by die Sinoville Krieketklub.

Olivier was op sy dag een van die land se mees onderskatte boulers, soos sy eersterangse syfers van 252 paaltjies in 174 wedstryde getuig. Hy is steeds een van slegs drie Suid-Afrikaners wat dit kon regkry om 10 paaltjies in ’n eersterangse beurt te neem. Dít het hy in 2007 in ’n SuperSport Reeks wedstryd vir die Warriors teen die Knights gedoen met uiteindelike boulsyfers van 10/65.

Later in sy loopbaan as speler het Olivier ook ondervinding opgedoen in Skotland, terwyl hy reeds as afrigter van die SWD o.19 span naam gemaak het. Met sy aanstelling by Sinoville Krieketklub sal die Mario Olivier Fast Bowling Academy ook by dié klub gesetel wees.

Sinoville Krieket Klub vier vanjaar hul 35ste bestaansjaar en dié klub het groot planne vir die nuwe seisoen, wat pas aangebreek het.

Die klub is kort voor die 1982/83 seisoen gestig met die doel om die krieketspelers in die omgewing van Sinoville, Wonderboom, Annlin, Magalieskruin en Montana die geleentheid te bied om kompeterende krieket op klubvlak te speel. In hul tweede seisoen het die klub hul eerste span in die vyfde liga van die destydse Noord-Transvaal krieket-unie ingeskryf.

Na dié klein begin, sonder ’n amptelike klubhuis en slegs twee spanne in die beginseisoen, het Sinoville Krieketklub gou uitgebrei. Teen die draai van die eeu in die 2000/01 seisoen het die klub se eerstespan vir die eerste keer in die Northerns Premier Liga gespeel en vyf addisionele spanne is in ander ligas ingeskryf.

Tans is daar vier senior spanne, een damesspan en tien junior spanne wat in verskeie junior ligas speel. Die klub spog met van die beste fasiliteite in Pretoria en daar is al provinsiale en internasionale wedstryde by Sinoville Krieketklub aangebied. Die klubhuis is toegerus met kleedkamers, ’n elektoniese telbord, ’n eetsaal, kombuis en kroeg met ’n geldige dranklisensie.

Sinoville Krieketklub se jarelange baanopsigter, Butch Faber, word beskou as een van die bestes op dié vlak en sy baanblad vergelyk goed met sommige in provinsiale stadions.

Die klub het al in verskeie seisoene die Northerns Krieket Unie se gesogte trofee van uitnemendheid, asook Northerns Krieketskeidregters se Klub van die Jaar toekenning ingepalm.

In die huidige Protea vrouespan is daar drie dames wat hul klubkrieket loopbane by Sinoville Krieketklub begin het. Die voormalige kaptein en steeds ’n staatmaker in die span, Mignon du Preez, verlede seisoen se Suid-Afrikaanse Vrouespeler van die Jaar en die jong ster Nadine de Klerk het al drie hul vaardighede by dié klub geslyp.

Die nuwe seisoen begin amptelik op 30 September vanjaar wanneer die eerste Premier Liga wedstryde gespeel word. Die ander senior spanne se ligas begin op 8 Oktober en die junior spanne (o.9, o.11, o.13 en o.15) speel hul eerste wedstryde op 15 Oktober.

Sinoville Krieketklub se spelers is reeds hard aan die oefen vir die nuwe seisoene en die bestuur nooi alle belangstellendes uit om elke Dinsdag en Donderdag om 16:30 tot 18:30 saam met die nuwe afrigter, Mario Olivier, te kom oefen.

Vir meer besonderhede, skakel Olivier by 084-601-6904 of Hettie Bouwer by 063 689 7304.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button