Local sportSport

Quins-Bobbies kwalifiseer vir Gouebeker kwarteindstryd

Quins-Bobbies rugbyklub het Saterdag hul derde agtereenvolgende oorwinning behaal in die Gouebeker klubtoernooi.

Die Carltonbeker kampioen, Quins-Bobbies Rugbyklub (QBR), is ná drie wedstryde steeds onoorwonne in vanjaar se nasionale Gouebeker kampioenskap vir oopklubs.

Die Pretorianers het die afgelope naweek hul derde agtereenvolgende oorwinning in dié gesogte toernooi behaal toe hulle Raiders van Johannesburg (Leeus) op hul tuisveld in Groenkloof met 46-24 geklop het.

Dit was ook dié span van Nico Luus en Gert Mulder se derde bonuspunt oorwinning, wat beteken dat hulle tans heel bo aan die punteleer van Groep B in die kompetisie is. QBR het vroeër in die toernooi ook reeds met Vaal Reefs van die Luiperds (54-10) en Old Georgians van Zimbabwe (38-34) afgereken.

Hoewel die tuisspan die eerste helfte van Saterdag se wedstryd teen Raiders oorheers het, het hulle sake vir hulself moeilik gemaak deur hul greep op die wedstryd te verloor in die tweede helfte. Die manne van Johannesburg het ook nooit gaan lê nie en hulle het aanhou veg tot die einde.

QBR se grondslag is egter voorlangs gelê deur puik spel in die vaste fasette, waar die basiese take deeglik uitgevoer is. Terwyl die vaste vyf hard gewerk het, kon QBR se uitstaande lostrio die besoekers treiter met skitterende spel, waartydens hulle mekaar puik aangevul het. Dis was veral die vuurvreter flank, Ian van Deventer, wat weer sy hart uitgespeel het. Hy het oudergewoonte by die afbreekpunte en op die verdediging reuse werk gedoen.

Hoewel die tuisspan se agterlyn heelwat geleenthede wat geskep is met hanteerfoute en gebrekkige konsentrasie verbrou het, kon hulle tog daarin slaag om soms aanskoulike aanvallende rugby op te dis. Teen rustyd het QBR reeds hul bonuspunt drie gedruk en met die telling op 26-5 wou dit lyk of die Johannesburgers uitgeknikker is.

Die moedige Raiders het teruggeveg in die tweede helfte en ná twee vinnige drieë het hulle die tuisspan se voorsprong laat krimp tot net sewe punte.

QBR het egter asem geskep ná twee strafdoele deur hul betroubare stelskopper en heelagter, Morné Hugo, waarna linkervleuel Jacques Erasmus oorgeduik het om sy driekuns te voltooi met sy span se vyfde drie.

Raiders moes in die laaste tien minute ’n agterstand van 20 punte probeer uitwis en hoewel hulle met elke geleentheid aangeval het, was dié taak te veel gevra. QBR se rateltaai haker, Johan Pieterse, het kort voor die eindfluitjie ’n onderskep-drie  behaal om die tuisspan se oorwinning te verseël.

Die Pretorianers sal eerskomende Saterdag na Setaria in Limpopo reis om in ’n bepalende stryd met die Northam Rhinos sake uit te spook vir die eerste plek op die punteleer in Groep B. Die manne van Northam is ook nog onoorwonne en hoewel albei spanne reeds vir die kwarteindrondte gekwalifiseer het, sal die wenner van hierdie tweestryd ’n kwarteindstryd op sy tuisveld verseker.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button