Local sportSport

Garsfontein stel nuwe atletiekkonsep bekend met King Price Spele

Skole-atletiek het verlede week nuwe waters getoets toe die King Price Spele atletiekbyeenkoms met groot sukses deur Hoërskool Garsfontein in die Tuks atletiekstadion aangebied is.

Die Hoërskool Garsfontein se unieke ‘King Price Spele’ atletiekbyeenkoms, wat verlede week in samewerking met versekeringsmaatskappy King Price in Pretoria aangebied is, het die standaard gestel om ’n nuwe revolusionêre konsep in dié sportsoort te vestig.

Sewe vooraanstaande atletiekskole uit twee verskillende provinsies se atlete was deel van die aksie.

Saam met die gasheerskool het Hoërskool Menlopark en Hoërskool Oos-Moot uit Pretoria deelgeneem, terwyl Hoërskool Transvalia (Vanderbijlpark), Helpmekaar Kollege (Johannesburg) en Hoërskool Kempton Park uit ander dele van Gauteng opgeruk het. Potchefstroom Gimnasium het uit die Noordwes provinsie gereis om deel te wees van dié unieke byeenkoms, wat heel waarskynlik ’n instelling sal word in hierdie jaareinde-deel van die atletiekseisoen.

Slegs drie ouderdomsgroepe (o.14, o.15, o.16 en o.17) het aan die byeenkoms deelgeneem, aangesien die matrieks (o.19) voorberei vir die eindeksamen.

Die uitstaande kenmerk van die byeenkoms is dat elke skool in spanverband deelneem, wat beteken daar is geen klem op individuele prestasies nie. Elke skool se span het uit 80 atlete bestaan, wat opgedeel is in 20 atlete uit elke ouderdomsgroep.

Daar was agt baan-items op die program, terwyl veld-items soos spiesgooi, diskus, gewigstoot, verspring en hoogspring ook aangebied is. Die verskillende baan-items het ongeveer 50 minute uit mekaar plaasgevind, terwyl die veld-items tussendeur afgehandel is.

’n Interessante kinkel by die veld-items was dat een ouderdomsgroep (seuns en meisies apart) op ’n slag gelyktydig aan al vyf die items deelgeneem het. Dié atlete is egter elk slegs twee pogings per item toegelaat en hierdie twee pogings moes binne drie minute afgehandel word.

Ná die afhandeling van ’n ouderdomsgroep se veld-items (byvoorbeeld seuns o.14), is al die deelnemers se prestasies gesamentlik verwerk (dus die beste gemiddelde prestasie as die vyf veld-items gesamentlik bereken word) en daar is onmiddelik bepaal watter skole se spanne het die eerste drie plekke behaal. Dié drie spanne is dan aan die toeskouers voorgestel op die podium, waar hulle kontantpryse ontvang het.

Op die baan is dinge ook heel anders as die gebruiklike atletiekprogram benader. Die baan-items is begin met ’n unieke 4x200m hekkies aflos, eers vir seuns en daarna vir die dogters. Vir dié aflos het die o.14 atlete weggespring. Hulle het aan die o.15 oorgegee, waarna die o.16’s en o.17’s gevolg het.

Die formaat van die tweede stel baan-items was weer ’n aflos wedloop vir seuns en meisies, wat begin is met ’n 100m skof deur die o.17 atlete. Daarna moes die o.16’s oorneem vir ’n 300m wedloop, gevolg deur ’n 200m wedloop vir die o.15’s. Die item is dan afgesluit met ’n 600m wedloop deur die o.14 atlete.

’n Gemengde 8x100m aflos, waaraan die volledige seuns- en meisiespanne deelgeneem het, was die volgende aan die beurt op die baan.

Hierna het twee 4x600m wedlope (seuns en meisies apart) gevolg. Die baan-items is afgesluit met nog ’n gemengde aflos (seuns o.14 tot o.17 en meisies o.14 tot o.17) van 8x300m elk.

Hierdie byeenkoms was ’n reuse sukses en die unieke konsep skep nuwe moontlikhede vir atletiek as toeskouer sportsoort. Die toeskouers by Garsfontein se King Price Games se verbeelding is aangegryp met die aksie, terwyl die bekende atletiek kommentator, Arnold van der Merwe, deurentyd sy bydrae deur middel van die openbare klanksisteem gelewer het om entoesiasme op te bou.

Vuurwerke rondom die podium en by die wenpaal tydens baan-items en musiek in die stadion het ook bygedra tot ’n feestelike atmosfeer.

Garsfontein se hoof, Leon Bantjes, was in sy noppies met die sukses van die byeenkoms en hy het aan Rekord gesê dat die konsep beslis gekom het om te bly. Volgens Bantjes is die idee van die konsep gebore uit samesprekings met die bekende atletiek administrateur van Pretoria, Henry Windell, waarna hyself en sy sportpersoneel by die skool die detail daarvan uitgewerk het om dit tot uitvoer te bring.

Die byeenkoms is uiteindelik deur die span van  Menlopark gewen, terwyl Helpmekaar Kollege die tweede plek behaal het. Potchefstroom Gimnasium was derde. Menlopark het ook die prys ontvang as beste presteerders in die veld-items, terwyl Kemptonpark die beste prestasies op die baan gelewer het.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button