Local sportSport

Quins-Bobbies steeds onoorwonne, speel tuis in Gouebeker kwarteind

Quins-Bobbies speel eerskomende naweek op hul tuisveld in die kwarteindstryd van die nasionale Gouebeker klubtoernooi.

Die liga fase van 2017 se Gouebeker Klubtoernooi is die afgelope Saterdag afgehandel en na Quins-Bobbies (QBR) se puik oorwinning van 50-12 teen die Northam Rhinos gaan hulle die uitspeelfase in as een van slegs twee onoorwonne spanne.

Die enigste ander onoorwonne span ind ie toernooi is Valsaai, wat verlede jaar teen Rustenburg Impala in die eindstryd van die toernooi verloor het. Dié klub uit Kaapstad het bo aan die punteleer van Groep D geëindig.

Daar is vooraf verwag dat QBR se laaste ligawedstryd teen die Limpopo kampioenspan ’n klipharde gelykopstryd sou wees. Kliphard was dit dalk wel, maar Nico Luus en Gert Mulder se manne het gewys dat hulle beslis op hierdie stadium een van die gunstelinge moet wees om die eindstryd te haal, toe hulle agt keer gaan druk het om die Bosvelders maklik ore aan te sit.

QBR het alle aspekte van die spel oorheers teen die manne van Limpopo, wat tot voor die wedstryd ook onoorwonne was in die toernooi. Dit het aan die Pretorianers die geleentheid gegee om aanskoulike hardlooprugby te speel en die drieë in te ryg.

Jacques Erasmus, linkervleuel van QBR, het behoorlik baljaar met al die hardloopkans wat hy gekry het. Hy het vier keer agter die doellyn gaan kuier. Daarnee het hy sy totaal vir drieë in die toernooi tot 12 opgeskuif, wat hom loshande die top driedrukker in vanjaar se Gouebeker kompetisie maak. Die 60 punte wat Erasmus met sy 12 drieë aangeteken het, plaas hom ook tweede op die lys van algehele puntemakers in die toernooi, terwyl QBR se stelskopper, Morné Hugo, die vierde plek op dié lys beklee met 45 punte in vier wedstryde.

QBR speel eerskoende Saterdag op hul tuisveld teen die Pumas se kampioenspan, Sasol Secunda, wat tweede in Groep A geëindig het. Die Northam Rhinos dring ook deur na die kwarteindrondte. Hulle sal Saterdag Rustenburg toe moet reis om die verdedigende kampioen, Rustenburg Impala, aan te durf. Laasgenoemde het bo aan Groep A se punteleer geëindig.

In die ander kwarteindstryde speel Tygerberg (C1) teen College Rovers van Durban (D2), terwyl Valsbaai (D1) teen die SWD kampioen, Progress George (C2), te staan sal kom.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button