Blou Bulle steeds in Curriebeker wedloop ná oorwinning oor Pumas
Die Blou Bulle kan steeds vir die halfeindrondte van die Curriebeker toernooi kwalifiseer ná hul puik oorwinning oor die Pumas Vrydagaand op Loftus Versfeld.
Daar is steeds hoop vir Bloubul ondersteuners dat hul span vanjaar die Curriebeker halfeindrondte kan haal, nadat Burger Odendaal en sy manne agt drieë gaan druk het om die Pumas Vrydagaand op Loftus Versfeld met 52-32 te klop.
John Michell, afrigter van die Blou Bulle, het vroeër vandeesweek tereg gesê dat hierdie wedstryd inderdaad soos ’n Curriebeker kwarteindstryd is. Teoreties het albei die spanne voor die afskop nog ’n kans gehad om die halfeindstryd in die toernooi te haal.
Hoewel die Blou Bulle waarskynlik vooraf die gunsteling was weens hul vertonings die afgelope paar weke, was dit gou duidelik dat Brent Janse van Rensburg se span Pretoria toe gekom het om te wen. Hulle het ’n puik seisoen gehad en kon met ’n bietjie geluk voor hierdie wedstryd reeds vir die uitspeelrondtes gekwalifiseer het.
Die manne uit die Laeveld het ook sommer vroeg gewys dat hulle nie net by Loftus opgedaag het om die seisoen af te handel nie. Na nege minute het hulle eerste bloed geruik toe die slot, Jannie Stander, ná ’n lynstaan dryfbeweging oorgeval het vir ’n welverdiende drie.
Hoewel die Blou Bulle daarna twee keer gaan druk het via Edgar Marutlulle en Ivan van Zyl, het die besoekers teruggeveg met twee strafdoele deur Kobus Marais en ná ’n halfuur se spel was die armdruk geveg nog intens.
Twee skitter drieë deur Travis Ismaiel en Warrick Gelant kort voor rustyd het egter nie net aan die tuisspan ’n bonuspunt besorg nie, maar dit het ook die skaal in die Blou Bulle se guns geswaai.
Die Pretorianers het hul voorsprong sommer vroeg in die tweede helfte gerek na meer as 20 punte toe Marco van Staden en Burger Odendaal kort na mekaar oor die doellyn is.
Hierna sou dit ’n groot poging van die manne uit Nelspruit verg om terug te kom in die wedstryd. Hulle het nooit gaan lê nie en vir hul moeite ’n bonuspunt vir vier drieë gekry, maar die Blou Golf was net te sterk om heeltemal te tem.
PUNTEMAKERS:
BLUE BULLS: 52 Drieë: Edgar Marutlulle, Ivan van Zyl, Travis Ismaiel (2), Warrick Gelant, Marco van Staden, Burger Odendaal, JT Jackson. Doelskoppe: Marnitz Boshoff (6).
PUMAS: 32 Drieë: Jannie Stander, Willie Engelbracht, Salom Gavor, Frank Herne. Doelskoppe: Kobus Marais (3), Strafdoele: Kobus Marais (2).
Skeidsregter: Marius van der Westhuizen





