Quins-Bobbies marsjeer steeds voort in Gouebeker toernooi
Die Carltonbeker kampioen, Quins-Bobbies, is steeds op koers om hul droomjaar met nóg ‘n trofee af te sluit, nadat hulle die afgelope naweek vir die halfeindrondte in die Gouebeker toernooi gekwalifiseer het.
Quins-Bobbies Rugbyklub (QBR) se eerstespan het Saterdag op hul tuisveld met groot gemak vir die halfeindstryd van die nasionale Gouebeker toernooi gekwalifiseer toe hulle die Pumas se kampioenspan, Sasol Secunda, met 59-20 kafgedraf het.
Nico Luus en Gert Mulder se manne was in ’n verwoestende bui en hulle het nege keer agter die doellyn gaan kuier tydens dié opwindende wedstryd.
Sasol Secunda, die Pumas se kampioenspan, was een van die verrassings in vanjaar se Gouebeker toernooi. Hulle het klubrugby kenners veral laat regop sit toe hulle sowat ’n maand gelede die verdedigende kampioen, Rustenburg Impala, in die ligafase van die toernooi geklop het.
Mpumalanga se bestes was egter nie opgewasse teen die Carltonbeker kampioen nie en QBR het regdeur die wedstryd alle aspekte van die spel oorheers. Die tuisspan se vaste voorspelers het Sasol Secunda harde bene laat kou, terwyl Ian van Deventer, Vincent Gwavu en Jan-Hendrik Bosman weer gewys het dat hulle as kombinasie waarskynlik die beste in die kompetisie is.
QBR se kragtige dryfspel het hul loskopstut, Attie Joubert, in staat gestel om twee keer te gaan druk, terwyl Van Deventer en Bosman se vaardigheid en puik ondersteunende spel hulle ook onder die driedrukkers laat tel het.
Agterlangs het QBR net te veel vaart en vaardigheid gehad vir hul moedige teenstanders. Daarvan getuig die vyf drieë wat deur die senters en vleuels van die tuisspan ingeryg is.
QBR se blitsvinnige linkervleuel, Jacques Erasmus, se drie het sy totaal tot dusver in die toernooi op 13 te staan gebring. Hy is steeds los voor as top driedrukker in die toernooi, met sy naaste teenstander op 9 drieë. Met net die halfeindstryde en die eindstryd oor, sal Erasmus nie maklik ingehaal word nie.
Die Pretorianers speel eerskomende Saterdag weer op hul tuisveld in die halfeindstryd teen College Rovers, die Sharks se klubkampioen. Die manne van Durban het die afgelope naweek met Tygerberg (WP) afgereken in een van die ander kwarteindstryde.
Eerskomende naweek se ander halfeindstyd is ’n herhaling van verlede jaar se eindstryd. Valsbaai, nóg ’n span uit die Wes-Kaap en die enigste ander span wat saam met QBR tot dusver onoorwonne is in vanjaar se toernooi, speel op hul tuisveld in Kaapstad teen Rustenburg Impala (Luiperds), nadat hulle onderskeidelik met Progress George (SWD) en die Northam Rhinos (Limpopo Blou Bulle) afgereken het in die ander kwarteindstryd kragmetings.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram.













