Blou Bulle berei jong spelers voor vir kontakrugby
Die Blou Bulle Rugby-Unie het ’n projek van stapel gestuur om jong agtjarige spelers voor te berei vir kontakrugby, wat hulle vir die eerste keer as negejariges sal beleef.
Bulletjierugby is teen hierdie tyd baie bekend by enige rugbyliefhebber, veral onder ouers en grootouers van spelertjies wat op sesjarige ouderdom die eerste keer met die spel te doen kry.
Wat dié konsep so gewild maak is juis die feit dat seuntjies (en soms ook meisies) tussen die ouderdom van ses en agt deur “Tag”-rugby die spel kan leer ken, sonder die risiko van ernstige beserings wat as gevolg van kontak opgedoen kan word. Jong spelers se vaardighede word geslyp tot op die ouderdom van agt en hulle leer die basiese besginsels van rugby, terwyl hulle die spel kan geniet.
Die Blou Bulle Rugby-Unie (BBRU) was baanbrekers met die ontwikkeling van “Tag”-rugby, die eerste fase van Bulletierugby waar materiaalstroke om spelers se heupe afgeruk moet word deur die verdedigende span, eerder as om laagvatte uit te voer.
Die BBRU het egter met hul navorsing opgelet dat ’n groot groep jong spelers verlore raak vir die spel sodra hulle nege jaar oud word en blootgestel word aan kontakrugby.
Skole vermy byvoorbeeld kontakrugby in die eerste oefeninge van die spelers se o.9 jaar, weens die vrees vir beserings. Dié situaise vererger egter die probleem en meer spelers gaan verlore.
Hierdie uitdaging het tot die gevolg dat die BBRU nou weer baanbrekers word met die ontwikkeling van ’n projek waardeur agtjarige spelers met voorbereidingsessies gereed gemaak sal word om die oorgang van “Tag”-rugby na kontakrugby makliker te hanteer.
Die unie bied eerskomende naweek (Vrydag en Saterdag) ’n program aan by Loftus Versfeld waarna alle jong spelers en hul afrigters genooi word wat in 2018 hul eerste kontakrugby by o.9 spanne sal ervaar.
Hennie Janse van Vuuren, Bestuurder van Afrigting en Opleiding by die BBRU, het aan Rekord gesê die seuns sal met ’n deeglik uitgewerkte program stelselmatig geleer word wat kontakrugby behels. Hulle sal in ’n gemaklike en genotvolle atmosfeer die tegniese vaardighede aangeleer word om die beginsels van veilige kontakrugby aan te leer.
Janse van Vuuren glo dat hierdie projek deeglik beplan en saamgestel is om ook aan ouers die gemoedsrus te gee om nie bang te wees vir die oorgang van hul seuns na kontakrugby nie.
Op Vrydag 20 Oktober vanaf 16:00 – 19:00 en Saterdag 21 Oktober vanaf 08:00 – 12:00 kom die afrigters met hulle o.8 spelers na Loftus waar hulle saam die oefensessies sal deurmaak. Ouers en enige ander belangstellendes word genooi om die praktiese sessies by te woon.
Vir navrae en meer besonderhende, kontak Hennie Janse van Vuuren by 079-221-6370.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
