Legendariese Tom van Vollenhoven oorlede
Tom van Vollenhoven, wat as Blou Bul en Springbok ’n superster was op 20 en later ’n Rugby Liga legende in Brittanje geword het, is die afgelope naweek oorlede.
Die gewese Bloubul en Springbok ster van die vyftigerjare en latere Rugby Liga superster, Tom van Vollenhoven, is die afgelope naweek op die ouderdom van 82 oorlede.
Van Vollenhoven het die afgelope maande met gesondheidsprobleme gesukkel. Hy het Saterdag tuis in sy slaap gesterf.
Die verhaal van Tom van Vollenhoven se sportloopbaan is een van die mees fassinerende verhale in Suid-Afrika se sportgeskiedenis.
Van Vollenhoven, wat in Betlehem in die Vrystaat grootgeword het, was ’n jong 19-jarige konstabel by die polisiekollege in Pretoria toe hy in 1954 vir die eerste keer vir Noord-Transvaal se rugbyspan gekies is. Hy was onmiddelik ’n ster en die held van menige jong Suid-Afrikaner, veral weens sy vermoeë om skouspelagtige drieë te druk met sy verbysterende vaart.
Hy was ook ’n provinsiale atleet, wat die 100 tree in 9,7 sekondes kon kafdraf. In 1955 was hy een van die land se beste ver- en driesprong atlete, terwyl hy deel was van die 4×110 tree aflosspan van Noord-Transvaal wat ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord opgestel het.
’n Jaar na sy debuut vir Noord-Transvaal op die rugbyveld het Van Vollenhoven as 20-jarige jongman in sy eerste toets teen die Britse Leeus uitgedraf. Nog twee weke later, in sy tweede toets, druk hy drie drieë vir die Springbokke. Dít het van hom oornag ’n superster in Suid-Afrika gemaak.
Sy skouspelagtige drie vir die Blou Bulle teen die Junior Springbokke in 1955 word tot vandag nog deur baie kenners beskou as die beste drie wat ooit op Suid-Afrikaanse bodem gedruk is. Hy het byna die hele Junior Springbokspan die een na die ander geklop in sy lopie van byna 80 meter, waarin hy kruis en dwars oor die veld beweeg het om uiteindelik langs die pale te druk.
Op die Springbokke se toer na Australië en Nieu-Seeland in 1956 druk hy 16 drieë in 19 toerwedstryde en net soos in Suid-Afrika word sy borselkop haarstyl ’n kits mode onder jong seuns in All Black-land.
Dit word algemeen aanvaar dat Van Vollenhoven een van Suid-Afrika se heel grootste rugbylegendes sou word as hy nie in 1957 op 22-jarige ouderdom beroepsrugby in Engeland gaan speel het nie. Op daardie stadium was hy reeds ’n plaaslike superster, al het hy maar in slegs 15 wedstryde vir Noord-Transvaal en sewe toetse vir Suid-Afrika gespeel.
Tom het egter voortgegaan en een van die heel groot legendes van Rugby Liga in Brittanje geword. Hy is na sy loopbaan van 11 seisoene opgeneem in die heldegalery van Britse Rugby Liga – die enigste Suid-Afrikaner ooit.
Tot vandag nog is hy ’n huishoudelike naam in Brittanje en hy is tot kort voor sy dood steeds gereeld as eregas genooi na belangrike Rugby Liga wedstryde. Hy hou steeds die rekord vir die meeste drieë in die geskiedenis van Rugby Liga in Brittanje. Hy het 392 keer in 408 wedstryde vir St Helens agter die doellyn gaan kuier. Ook sy 62 drieë in sy eerste seisoen by St Helens is vandag steeds ’n rekord.
Toe hy destyds na Engeland gelok is deur St Helens was hy in die rekordboeke voor hy nog ’n wedstryd gespeel het. Die kontantbedrag (£7230) waarmee hy daarheen gelok is was die grootste ooit tot op daardie stadium.
Nadat hy uit beroepsrugby getree het, het Van Vollenhoven na Suid-Afrika teruggekeer, waar hy hom in Springs aan die Oos-Rand gevestig het. Hy was ‘n gereelde gesig by sportfunksies en gholfdae, maar weens verskeie faktore het Suid-Afrikaners waarskynlik nooit besef hoe ’n groot legende hy in Brittanje was nie.
’n Rugby Liga historikus in Brittanje het jare na sy uittrede geskryf dat St. Helens se bestuur in staat was om vier jaar na Van Vollenhoven se aankoms in dié stad ’n nuwe hoofpaviljoen te bou, direk as gevolg van die “Vollenhoven effek” by die klub. Op daardie stadium het die klub in vier seisoene elke moontlike toernooi gewen waaraan hulle deelgeneem het en die aanvraag vir seisoenkaartjies was ongekend.
Toe St. Helens in 1990 hul eeufees gevier het, is Van Vollenhoven uit Suid-Afrika genooi as eregas van die amptelike fees. Koerante het gerapporteer dat hy die dag voor die amptelike funksie drie uur lank by die klub se museum deur bewonderaars besig gehou is, terwyl hy geduldig handtekeninge uitgedeel het.
“Bewonderaars en ondersteuners van die klub het in ’n lang tou in die straat voor die klub gestaan om ‘The Von’ te ontmoet – byna 22 jaar na sy uittrede,” het een koerant destyds geskryf.
Vyf jaar gelede, in 2012, is Van Vollenhoven vir oulaas deur St. Helens vereer toe die klub hul eerste wedstryd in die Super Liga sou speel. Die klub se span van die dag, asook voormalige St. Helens legendes, het ’n erewag gevorm vir Van Vollenhoven, wat die amptelike wedstryd-bal seremonieel van die stadion na die middelkolletjie kon dra.
Sy dood was groot nuus in Brittanje en byna elke nuusblad en TV-stasie in Engeland het huldeblyke oor hom geskryf of uitgesaai, waarin hy deur verskeie Rugby Liga kenners as die “grootste speler ooit” in dié sport beskryf is.
Hy word oorleef deur sy vrou, Leonie, ’n seun en ’n dogter en vyf kleinkinders. Sy tweede seun het jare gelede in ’n motorongeluk gesterf.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

