Local sportSport

Quins-Bobbies kry slae in Gouebeker halfeindstryd

Quins-Bobbies se aanslag op die nasionale Gouebeker klubkampioenskap is die afgelope naweek deur College Rovers van Durban gestuit.

College Rovers, klubrugby-kampioen van die Haaie, het Saterdag daarin geslaag om Quins-Bobbies (QBR) se Gouebeker veldtog te beëindig, toe hulle die Pretorianers met 31-28 in die halfeindstryd van dié gesogte toernooi verslaan het.

Dit was die spreekwoordelike ‘wedstryd van twee helftes’ met die besoekers wat al hul punte in die eerste helfte aangeteken het, terwyl QBR so byna daarin kon slaag om in die tweede helfte van agter terug te kom om te wen. Met ‘n bietjie meer geluk kon hulle dit wel gedoen het, maar die horlosie het Willie Odendaal en sy manne uiteindelik ingehaal voor hulle die knoop kon deurhaak.

Die rustydtelling was 31-0 in die Durbaniete se guns, wat duidelik aandui dat die Carltonbeker kampioene hierdie wedstryd met hul swak vertoning in die eerste helfte weggegooi het.

QBR was ná hul puik vertonings in die groepfase én in die kwarteindstryd van die toernooi beslis die gunsteling om College Rovers op hul tuisveld in Groenkloof te klop. Die manne uit Natal het die Pretorianers egter verras met ’n reuse aanslag in die eerste helfte. QBR kon in daardie eerste 40 minute eenvoudig net nie genoeg balbesit kry om ‘n verskil te maak nie, terwyl hulle boonop soms baie swak verdedig het.

Met hul skitterende baljagter flank, Matthew Jones, aan die voorpunt, het College Rovers die afbreekpunte oorheers en daardeur die nodige momentum gekry wat hulle nodig gehad het. Hulle het ook die tempo van die spel besonder vinnig gehou en hul ondersteunende spel was puik. Met goeie interaksie tussen voor- en agterspelers het die besoekers die oorblufte manne van QBR van hul voete af gespeel, terwyl hul dryfspel van lynstane af tot drie van hul vyf drieë aanleiding gegee het.

Teen rustyd het die besoekers reeds vyf keer gaan druk en selfs die getrouste ondersteuners van QBR was oortuig dat die tweestryd verby was.

Nico Luus en Gert Mulder het egter hard met hul manne gepraat en hul terugvegpoging in die tweede helfte was merkwaardig. Die Durbaniete se longe het boonop duidelik begin brand in die hoëveldse lugdruk en hulle het begin stoom verloor ná die omdraaislag.

QBR het verwoed begin aanval en nadat hulle rekening in die eerste tien minute van die tweede helfte  geopen is met ’n strafdrie toe die besoekers ’n dryfbeweging onwettig probeer stop het, was daar skielik weer hoop.

Nog twee drieë deur skrumskakel Dale Hendricks en die kragvleuel Michael Nienaber  het ’n roemryke terugvegpoging realisties laat lyk.

Die tuisspan het egter weer hul eie sop sout gemaak en verskeie realistiese kanse is verbrou met verkeerde opsies of hanteerfoute.

Joe Motsepe se drie in die 38ste minuut het die telling op 31-28 te staan gebring en met al die momentum in QBR se guns kon die wonderwerk nog gebeur.

Die adrenalien het op en van die veld af gepomp in die doodsnikke van die wedstryd, terwyl QBR diep uit hul eie gebied met ’n aanval begin het. Dié laaste poging is anderkant die halflyn gestuit toe desperate verdediging van die besoekers die beweging oor die kantlyn kon dwing en skeidsregter Ben Crouse se eindfluitjie ’n einde aan die skouspel gemaak het.

College Rovers speel nou eerskomende naweek in Kaapstad teen Valsbaai in die eindstryd, nadat laasgenoemde die afgelope naweek met die verdedigende kampioen, Rustenburg Impala, in die ander halfeindstryd afgereken het.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button