Local sportSport

Meesters-stoeiers wys hul slag op stoeimat

Verskeie Pretorianers was deel van die Suid-Afrikaanse meesters-stoei span wat puik prestasies behaal het by die onlangse wêreldkampioenskap in in Bulgarye.

Die Suid-Afrikaanse meesters-stoei span, met verskeie Pretorianers in hul geledere, het verlede week teruggekeer van hul baie geslaagde deelname aan die wêreldkampioenskappe wat in Plovdiv in Bulgarye plaasgevind het.

Die Suid-Afrikaanse span het uiteindelik vierde geëindig uit die 45 lande wat deelgeneem het. Dié prestasie is moontlik gemaak deur ’n paar skitterende individuele vertonings.

Die groot ster in die Suid-Afrikaanse span was weer Willem Putter van Noord-Gauteng Stoei. Putter het sy status as internasionale stoeilegende herbevestig met goue medaljes in sowel die Grieks-Romeinse styl as Vrystyl.

Putter, wat in kategorie E in die 88 kg-gewigsafdeling deelgeneem het, het op die eerste dag van die kampioenskappe in ‘n uiters spannende geveg om die Grieks-Romeinse goue medalje teen die gevreesde Rus Nikolay Kazakov te staan gekom.

Met net enkele sekondes in die geveg oor en die telling op een punt elk, het die twee stoeiers mekaar in ’n klassieke Grieks-Romeinse greep beetgehad. Kazakov het boonop ‘n voordeel gehad, omdat hy sy punt laaste aangeteken het. Die uitgeslape Rus het aan dié skrale voorsprong geklou, met die redelike verwagting dat die tyd sou uitloop, maar met die spanning op breekpunt het Putter toegeslaan. Hy het met volmaakte tydsberekening sy teenstander oorrompel, wat aan hom die goue medalje besorg het.

Putter het sy goue medalje in die vrystyl-afdeling verower teen die verdedigende kampioen, John Hanrahan van Amerika. Daar was vooraf groot verwagtinge vir dié tweestryd. Hanrahan het Putter verlede jaar in Walbrzych in Pole in die eindwedstryd van die 2016-wêreldkampioenskappe verras en die Amerikaanse media het geen geheim daarvan gemaak dat Hanrahan die man was wat vanjaar geklop moes word nie.

Ook hierdie stryd was baie taai, hoewel die Amerikaner nie daarin kon slaag om ‘n enkele punt teen Putter aan te teken nie. Die telling was 4-0 in die Suid-Afrikaner se guns.

In dieselfde vrystyl-afdeling het Francois Pienaar in een van die beste gevegte van die kampioenskap die bronsmedalje gewen toe hy die hoogaangeskrewe Fransman Philippe Herzog met 8-2 geklop het.

Verskeie ander lede van die span het in hul onderskeie gewigsafdelings medaljes gewen.

Duane van Staden moes sy wêreldtitel verdedig teen die Iranees Asgar Soleyman.  Van Staden, wat voor die toernooi weens ‘n besering min tyd gehad het om voor te berei, het tot aan die einde van die geveg voorgeloop. Ongelukig het ‘n oordeelsfout enkele sekondes voor die einde van die geveg hom twee punte en die goue medalje gekos.

Suid-Afrika se tweede silwermedalje in die vrystyl is deur Arno van der Merwe gewen. Van der Merwe het naelskraap met 0-2 teen nóg ‘n Iranees in die eindwedstryd verloor.

Juan Nel was nog een van Suid-Afrika se dubbele medaljewenners. In die vrystyl-afdeling het hy Rafael Sierra van Spanje met 2-1 om die bronsmedale geklop. In die Grieks-Romeinse afdeling het Nel ook brons gewen toe hy Gafil Taghiyev van Azerbeidjan met 4-0 verslaan het.

In nóg ‘n skouspelagtige vrystyl-wedstryd het Donawan Davel die Griek Arthouros Kalpatsanides met 15-4 om die bronsmedalje verniel.

Jacques Rossouw het brons gewen in die vrystyl-afdeling en is sewende geplaas in die Grieks-Romeinse styl. In sy geveg om die bronsmedalje het hy Jiri Runcak van Slowakye met 11-0 oorrompel.

Chris Sutton, wat verlede jaar vrystyl-wêreldkampioen geword het ná ‘n omstrede geveg teen ‘n Rus wat weens vuilspel gediskwalifiseer is, het vanjaar ‘n bronsmedalje gewen deur Angelov Trayan van Macedonië te klop.

Nóg ‘n voormalige Suid-Afrikaanse vrystyl-wêreldkampioen, Kalfie Bekker, was baie ongelukkig om nie die eindstryd te haal nie, maar hy het brons gewen deur Michael Osborne van die VSA met 12-7 te klop.

Jacques Meyer het ook ‘n vrystyl-bronsmedalje huis toe gebring. Hy het Igor Nencioni van Italië naelskraaps geklop.

https://www.facebook.com/wrestlingveterans/videos/2015334582081704/

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button