Skoolseun van Pretoria behaal unieke sportprestasie
’n 13-jarige skoolseun van Pretoria het met sy verowering van twee titels by die onlangse nasionale jeug stoeikampioenskap ’n ongekende sportprestasie voltooi.
Ses nasionale titels op die sportveld in ’n enkele kalenderjaar.
Dít is die byna ongelooflike prestasie wat Garrick Rees, ’n 13-jarige skoolseun van Curro College Hazeldean in Pretoria, vanjaar vermag het.
Nadat Rekord onlangs berig het oor Rees se prestasies en sy droom om die nasionale stoeititel in sy ouderdomsgroep te voeg by sy vier ander nasionale titels op die sportveld, het dié begaafde seun selfs beter gedoen. Hy het sommer twee titels gewen by die onlangse Suid-Afrikaanse Jeugkampioenskap wat in Turffontein in die suide van Johannesburg plaasgevind het.
Rees is by dié stoeikampioenskap in Vrystyl sowel as Grieks Romeise styl as kampioen in sy ouderdomsgroep en gewigsafdeling gekroon. Hierdie twee titels bring die aantal nasionale titels wat hy vanjaar in vier verskillende sportsoorte gewen het op ’n verstommende ses te staan.
Hy het vroeër vanjaar ook die 800m en die 1500m by die Suid-Afrikaanse junior atletiekkampioenskap gewen. By die nasionale skole atletiekkampioenskap is hy boonop aangewys as beste baanatleet (seuns) ná sy twee oorwinnings in die middelafstande.
Daarna is hy as Suid-Afrikaanse onder 55kg judo kampioen gekroon en in September het hy ook die 4km wedloop vir seuns o.13 by die nasionale landloopkampioenskap gewen.
Dié beskeie seun skryf sy sukses toe aan dissipline, toewyding en harde werk. Hy oefen ses dae van die week.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

