Local sportSchool sportSport

Kolwe klap weer by HTS John Vorster se unieke kriekettoernooi

Daar was vanjaar min te kies tussen die spanne van die vier skole wat aan HTS John Vorster se jaarlikse Dag/Aand T20 kriekettoernooi deelgeneem het.

Die bekende Dag/Aand T20 kriekettoernooi van HTS John Vorster is verlede week vir die 17de agtereenvolgende jaar aangebied.

Drie buurskole uit die Moot area en nog ’n skool uit die noorde het mekaar oudergewoonte die stryd aangesê oor die vier dae wat die toernooi geduur het. Saam met die gasheer skool, HTS John Vorster, was Oos-Moot, Wonderboom en Montana die ander deelnemers.

Hierdie toernooi is nie net baie gewild onder die skoolseuns wat deelneem nie, maar dis jaarliks ook ’n groot trekpleister vir toeskouers. Die skool se sportterrein teen die hang van die Magaliesberg maak dit ’n baie gesellige omgewing vir krieket en teen vroeg-aand het die braaivleisvure tussen die toeskouers daagliks bygedra tot die atmosfeer by die toernooi.

Die krieket wat opgedis is by vanjaar se toernooi was besonder kompeterend en toe die laaste dag aanbreek kon nie een van die spanne onoorwonne na die eindstryd deurdring nie. Die organiseerders moes vir die eerste keer in ’n lang tyd na tegniese punte op die punteleer kyk om te bepaal watter span sou saam met Oos-Moot na die eindstryd deurdring. Laasgenoemde het ses punte verdien vir hul twee oorwinnings in die rondomtalie-fase van die toernooi. Montana en Wonderboom het egter albei vyf punte verdien, maar Montana het toe op ’n tegniese punt na die eindstryd deurgedring.

Nadat Montana vir Oos-Moot in hul eerste wedstryd op dag een geklop het, het laasgenoemde die bordjies verhang in die eindstryd. Oos-Moot het eerste gekolf en danksy ’n puik beurt van 54 lopies deur hul kaptein, Ruan de Bie, het hulle daarin geslaag om 180 lopies op die telbord te kry in hul 20 boulbeurte. Daarna het die boulers van Oos-Moot die kolflys van Montana in die 18de boulbeurt almal uitgehaal vir net 119 lopies om die toernooi te beklink.

Puik indivuduele vertonings met die kolf én met die bal was weer aan die orde van die dag in hierdie toernooi, terwyl daar ook skitterende veldwerk gesien is. Selfs tydens die wedstryde wat in die aand onder die baie goeie ligte by HTS John Voster se sportveld plaasgevind het, is daar verskeie skouspelagtige vangkanse benut.

Ten spyte van die feit dat Montana in die eindstryd teen Oos-Moot verloor het, het hulle daarin geslaag om met al die individuele pryse weg te stap na afloop van die aksie. Marco Nel van Montana se sewe paaltjies in 14 beurte het aan hom die toekenning as beste bouler besorg. Sy spanmaat, Juan van der Walt, is as kolwer van die toernooi én man van die reeks aangewys. Hy het 191 lopies in vier beurte gemoker teen ’n gemiddeld van 63.67.  Sy kolfvertonings het drie vyftigtalle ingesluit, terwyl hy boonop vyf paaltjies in sy dertien boulbeurte tydens die toernooi geneem het.

Nog ‘n groot trekpleister by die toernooi is die “Groot Ses” kolfkompetisie vir laerskoolseuns, wat op die laaste dag net voor die eindstryd aangebied word. In dié kompetisie kry laerskoolseuns uit die omgewing die kans om te wys wat in hul steek met ’n kriektekolf in die hand. Elke deelnemer kry drie kanse, wanner daar drie balle na hulle geboul word deur ‘n onafhanklike persoon. Die seun wat dan die bal die verste kan slaan is die wenner. Vanjaar was Jayden Horn van Laerskool Voorpos die wenner met ’n nuwe rekordpoging. Hy het ’n reuse ses van 65,2 meter gemoker om die kompetsie gemaklik te wen.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button