Local sportSport

Noord-Gauteng vereer stoeiers vir prestasies in 2017

Die meriete toekennings geleentheid van Noord-Gauteng Stoei het weer bewys dat Pretoria die land se beste stoeiers oplewer.

Noord-Gauteng Stoei se spoggerige meriete-toekennings funksie, wat die afgelope naweek by die Blikkantien Restaurant by die Voortrekkermonument aangebied is, het onteenseglik as getuienis gedien dat dié vereniging loshande Suid-Afrika se beste stoeiers oplewer.

Statistiek wat deur die vereniging se president, Jurie Human, bekendgemaak is, het ook bewys dat Noord-Gauteng Stoei nie net reg oor die wêreld op die stoeimat presteer nie, maar dat die sport ook steeds groei in Pretoria.

Noord-Gauteng Stoei het in 2017 ‘n positiewe groei van 16% getoon in die aantal stoeiers wat by die vereniging se 12 klubs geregistreer het.  Altesaam 724 stoeiers was vanjaar aktief onder die vaandel van die vereniging, terwyl daar ook ‘n groei van 15% onder die aktiewe administrateurs was. Human het gesê die feit dat die vereniging oor soveel puik administrateurs en skeidsregters beskik, is ‘n deurslaggewende faktor wat hulle in staat stel om van die land se grootste toernooie te kan aanbied.

Onder hierdie florerende getalle het dit vanjaar weer gewemel van nasionale en internasionale kampioene. Die vereniging se stoeiers het vanjaar 147 medaljes ingeryg by die nasionale kampioenskap. Hiervan was 65 goue medaljes, terwyl 41 stoeiers silwer medaljes gewen het en 41 met brons medaljes huis toe kon gaan.

Noord-Gauteng Stoei se oorheersing is verder onderstreep deur die feit dat dié vereniging 12 van die moontlike 19 trofees by die nasionale kampioenskap verower het. Die vereniging se Bulls span het die gesogte Noordvaal toernooi vanjaar vir ‘n rekord 14de keer gewen, terwyl die kadette span sewe medaljes teruggebring het vanaf die Afrika kampioenskap.

Die meesters van Noord-Gauteng Stoei het ook hulle deel gedoen deur agt medaljes te verower by die wêreldkampioenskap in Bulgarye. Onder dié medaljes tel Willem Putter se twee goues (een elk in Vrystyl en Grieks-Romeinse styl), wat sy status as wêreldster in die gemeenskap van meesters-stoeiers onderstreep het. Putter is as Noord-Gauteng Stoei e beste meesters stoeier aangewys.

Human het sy mede bestuurslede geloof vir hul harde werk en hul bystand om die vereniging se strategiese plan te laat slaag.

’n Taai stryd het oudergewoonte geheers tussen Noord-Gauteng Stoei se twee top klubs toe die liga trofees uitgedeel is. Centurion en Tuks het dié afdeling oorheers en Centurion het uiteindelik met ‘n kortkop as die beste klub uitgestaan. Dié klub, wat die vereniging se A-liga wenners was, is ook aangewys as 2017 se klub van die jaar.

Mika Lehmkuhl (o.15) en Edrich Nortjé (o,17) was die uitstaande sterre toe die prestige toekennings bekendgemaak is. Hierdie twee stoeiers is albei tweemaal vereer, deurdat hulle in beide die Vrystyl en die Grieks-Romeise styl as die vereniging se beste stoeiers in hul ouderdomsgroep aangewys is. Reynard Louw (o.20) en Gertjie Coetzee (senior) was die ander wenners in die Vrystyl afdeling, terwyl Brandon Kidson (o.20) en Josef de Beer (senior) as die beste stoeiers in die Grieks-Romeinse aangewys is.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button