Local sportSport

Naka Bulle vier hul suksesse van 20ste bestaansjaar

Die Naka Bulle Rugbyklub kon die afgelope naweek ‘n jaar van puik prestasies vier by hul jaareindfunksie, waar verskeie spelers en administrateurs vereer is.

Vir baie kenners van klubrugby in Pretoria was die Naka Bulle Rugbyklub jare lank ‘n enigma.

Dié klub is geleë in die hartjie van die Moot, wat sonder twyfel een van die grootste bronne van rugbytalent in die hele direkte voedings-area van die Blou Bulle is. Om een of ander rede kon Naka Bulle egter vir jare nie hul volle potensiaal bereik nie. Daar is in die verlede al baie van dié klub gepraat as die “sluimerende reus” van klubrugby in die Blou Bulle se jurisdiksie gebied. Hoewel Naka Bulle egter in 1997 ontstaan het toe twee stoere klubs, Adelaars en Oostelikes, saamgesmelt het, kon hulle onder die nuwe vaandel in die eerste twintig jaar van hul bestaan nooit deurbreek en belangrike bekers wen nie.

Na ‘n duidelike opwaartse kurwe in hul prestasies oor die afgelope paar seisoene het Naka Bulle egter in 2017 ordentlik deurgebreek. Nie net het hul eerstespan uiteindelik as kampioene van ‘n groot toernooi uit die stryd getree nie, maar die klub het homself in al die ligas waaraan hulle deelgeneem het onde die voorste spanne gevestig.

Naka Bulle kon die afgelope feesjaar se sukses met oorgawe vier by hul jaareindfunksie, wat verlede Vrydagaand by die TradeMarx restaurant in die skadu van Loftus Versfeld aangebied is.

Die klub se eerstespan het die seisoen afgeskop met hul eerste groot titel in hul 20-jarige bestaan, toe hulle die Interprovinsiale Assupol Klubreeks gewen het deur die latere Carltonbeker kampioen, Quins-Bobbies, in die eindstryd te klop.

Hoewel die eerstespan stadig begin het in die Carltonbeker toernooi, het hulle skitterend geëindig en hulle het in die pylvak met beide Centurion en Rustenburg Impala afgereken om vir die halfeindrondte te kwalifiseer. Dié twee klubs was op daardie stadium onderskeidelik die verdedigende Carltonbeker en Gouebeker kampioene.

Naka Bulle het ‘n plek in die eindstryd van die Calrtonbeker misgeloop toe Quins-Bobbies die bordjies verhang het in ‘n spannende halfeindstryd, wat in die doodsnikke met ‘n strafdoel in laasgenoemde se guns beklink is.

Hoewel die eerstespan dus nie in die eindstryd van die Caltonbeker gespeel het nie, het Naka Bulle die onderskeiding behaal dat al vyf hul spanne die uitspeel-fase van die toernooi kon haal in 2017. Die tweedespan het die liga vir die eerste keer in die klub se bestaan gewen, terwyl die o.21’s ook as kampioen gekroon is.

Verdere prestasies van die klub was die feit dat hul spelers die Limpopo Blou Bulle se provinsiale span oorheers het, terwyl verskeie spelers van Naka Bulle ook vir die Blou Bulle se sewesrugby span uitgedraf het.

Benewens al hierdie prestasies gaan die Internasionale Rugby-instituut, wat onder leiding van Marinus van der Wath, Naka Bulle se rugby-direkteur, by die klub gesetel is, van krag tot krag en dié instituut is vanjaar uitgebou deur die toevoeging van ‘n akademie vir afrigters en ‘n spesialis-akademie vir voorry spelers, onder leiding van die bekende oud Bloubul, Kees Lensing.

Verskeie spelers en administrateurs van die klub is by die funksie vereer vir hul prestasies in 2017. Die klipharde flank, Louis van Biljon, is vir sy puik spel in 2017 beloon met die spog toekenning van die funksie. Hy is aangewys as die klub se Speler van die Jaar.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button