Waterkloof as Noordvaal krieketkampioen gekroon
Pretoria spog met die beste skole krieketspan in die noordelike provinsies, nadat Waterkloof verlede week as die kampioen van die Gunn&Moore Noordvaal kriekettoernooi gekroon is.
Die Hoërskool Waterkloof se eerste krieketspan is verlede week as kampioen van die 2017 Gunn&Moore Noordvaal kriekettoernooi gekroon.
Die eindstryd van dié gesogte toernooi het by die Uplands College in Witrivier plaasgevind en die span van Waterkloof het teen Hoërskool Nelspruit te staan gekom in dié wedstryd.
Klofies se kaptein het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Hoewel die lewendige kolfblad in die Laeveldse somerweer die bal heelwat streke laat uithaal het, kon Klofies se kolwers tog daarin slaag om stelselmatig te bou aan hul telling.
Nelspruit beskik oor puik boulers, wat die groenerige kolfblad en die weerstoestand slim gebruik het. Die eerste paaltjie het geval met die Pretorianers se telling op 31. Toe Klofies se kaptein, Eben Botha, egter sy paaltjie met die span se totaal op 45 verloor, het gevaarligte begin flikker vir die besoekers.
Ná ‘n goeie vennootskap tussen Jandré Pretorius en Juandré Jooste het Waterkloof weer moed geskep, maar toe Pretorius sy paaltjie op 33 verloor met sy span se telling op 117, het die skaal weer in Nelspruit se guns geswaai.
Nico van Zyl en Sean du Plooy het die Klofies egter weer op koers gebring met ‘n vennootskap van 42 lopies om die agtste paaltjie. Daarmee het hulle gehelp om Waterkloof se totaal op 213/9 te staan te bring toe hul 50 boulbeurte verstreke was. Van Zyl tot die einde gekolf en met ‘n onoorwonne 52 lopies geëindig.
Gideon Peters, Klofies se aanvangsbouler, het vroeg toegeslaan en die Laevelders se eerste paaltjie laat kantel met hul telling op ‘n skrale 4 lopies. Daarna het Peters en sy mede boulers stelselmatig paaltjies geneem en Nelspruit kon nooit werklik stewige vennootskappe bou nie. Marco Boonstra het as aflosbouler ’n paar belangrike paaltjies laat kantel.
Saam met dié boulvertoning was die Klofies se veldwerk ook skitterend en hulle het geen onnodige lopies deurgelaat nie.
Nelspruit het teen die einde die druk begin voel en gevolglik foute gemaak. Die laaste drie paaltjies het geval vir net vier lopies en die Laevelders kon uiteindelik slegs 138 lopies aanteken, wat beteken dat Klofies die wedstryd met 75 lopies gewen het om as Gunn&Moore Noordvaal kampioen gekroon te word.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
