Klubrugby kry eie Internet-TV program
Danksy die moontlikhede wat geskep word deur sosiale media platforms soos Facebook en YouTube, het ‘n groep rugby liefhebbers onlangs ‘n Internet-TV kanaal vir plaaslike klub- en amateurrugby op die been gebring.
Die snelle ontwikkeling van sosiale media hou deesdae groot voordeel in vir sport wat weens verskeie redes aan die agterste speen suig in die hoofstroom media.
Dit is geen geheim dat klubrugby oor die algemeen bittemin TV-dekking kry nie. Selfs ‘n presige toernooi soos die Gouebeker Nasionale Klubkampioenskap kon nie daarin slaag om vanjaar direkte uitsendings van belangrike wedstryde te beding nie.
Danksy die beskikbaarheid van digitale tegnologie en die uitbreiding van sosiale media het die voorsitter van die Tuine Sportklub, Jaco Olivier, en ’n groep rugbyliefhebbers onlangs besluit om ’n plan te maak om aan klubrugby in Pretoria meer blootstelling te gee.
Onder Olivier se leiding is ’n netjiese atlejee tussen die klubhuis en die A-veld by Tuine Sportklub gebou, waarvandaan daar die afgelope twee maande reeds gereeld op Donderdagaande ‘n aktuele program aangebied word. Dié program, wat Skop&Skrum genoem word, word regstreeks op Facebook en deesdae ook op YouTube uitgesaai. Die program word onder die vaandel van die GTV kanaal en met die hulp van ‘n goed toegeruste tegniese span aangebied en belangstellendes sal dit op enige van hierdie kanale kan volg deur ‘n eenvoudige soektog vir “Skop&Skrum” te doen. Dit kan Donderdae teen 19:00 regstreeks gevolg word of later op een van die twee kanale gekyk word.
Olivier dien sedert die eerste program as anker-aanbieder en hy word weekliks bygestaan deur twee kenners van klubrugby, Johan Heymans en Shaun Kelly.
Verskeie gaste word weekliks na die ateljee genooi, waar hulle op die nou bekende “rooi banke” plaasneem om vrae van die paneel te beantwoord. Volgens Olivier nooi hulle gaste oor ‘n wye spektrum – van beamptes van die Blou Bulle tot afrigters, administrateurs en spelers op verskeie vlakke om die program aktueel en interessant te hou.
Daar word ook insetsels op die program gewys van wedstryd-aksie wat opgeneem word, terwyl ’n rubriek in samewerking met laerskole ook baie gewild is. Onderhoude met jong rugbyspelertjies sorg in dié rubriek vir pittige sêgoed.
Olivier het aan Rekord gesê dat die program sy hoogtepunt van die jaar op 23 November gaan bereik, wanneer ‘n meriete-toekenningsgeleentheid regstreeks deel van die uitsending sal wees. Met hierdie meriete toekennings sal daar gepoog word om presteerders van klub- en amateurrugby in 2017 te vereer vir hul harde werk.
Die “Skop&Skrum” program sal dan ‘n breuk vat tot vroeg volgende jaar, wanneer hulle gaan poog om die hele rugbyseisoen te dek.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
