Vyf nuwe gesigte op Blou Bulle se bestuur
Vyf nuwe vise-presidente vir die Tshwane streek is verlede week op die Blou Bulle Rugby-unie se driejaarlikse verkiesing van die Uitvoerende Komitee aangewys.
Dit was nou wel nie vergelykbaar met die bloedbad van 2014 wat gevolg het ná die destydse paleisrevolusie op Loftus Versfeld nie, maar ná verlede week se verkiesing van die Blou Bulle Rugby-unie se Uitvoerdende Komitee (UK) is vyf van die sewe vise-presidente deur nuwe manne vervang.
Die Blou Bulle se UK in die Tshwane streek bestaan uit die president, ’n adjunk-president en sewe vise-presidente, wat almal verteenwoordigend is van ‘n groepering uit amateur- en klubrugby.
Nadat die grondwet van die unie in 2014 verander is, word die president vir ‘n termyn van vier jaar verkies, terwyl die res van die UK – wat destyds verklein is deur sommige verenigings in groepe saam te voeg – se termyn slegs oor drie jaar strek. Die adjunk-president en sewe vise-presidente moes dus verlede week vir die volgende driejaar termyn verkies word, terwyl die presidentsverkiesing eers aan die einde van 2018 sal plaasvind. Gert Wessels sal dus vir ten minste nog ’n jaar die Blou Bulle se president wees.
Die sewe vise-presidente verteenwoordig basies vier groepe. Eerstens is daar die senior Carltonbeker klubs (3 kandidate). Dan volg die Reserweliga klubs, bestaande uit die Carlton B en Carlton C klubs (2 kandidate). Die Laer- en Hoërskoleverenigings, die Jeugvereniging en Rolstoelrugby is die derde groep (1 kandidaat). Groep vier bestaan uit die Afrigtersvereniging, Skeidsregtersvereniging, Mediese-vereniging (noodhulp) asook die oud spelers (1 kandidaat).
Henry Adendorff is onbestrede herkies vir nog ‘n termyn as die Tshwane streek se adjunk president. Saam met hom het slegs twee vise-presidente die 2017 verkiesing oorleef. Hulle is Willem Strauss van Quins-Bobbies (senior Carltonbeker klubs) en Ferdi Niemand (verteenwordiger van die derde groep, bestaande uit die skoleverenigings, jeug- en rolstoelrugby).
Die vyf nuwe manne in die Blou Bulle se UK (Tshwane Streek) is Theuns Reynolds van Tukkies en Ian Herbst van Naka Bulle (beide senior Carltonbeke klubs), Johan Beukes van Tuine en Peter Moila van die Ontwikkelingsklubs (beide Reserweliga klubs) en Blikkies Groenewald (afrigters, skeidsregters, medies en die oud spelers).
Reynolds het onlangs die leisels oorgeneem as voorsitter van Tukkies. Herbst is ‘n deurwinterde klubadministrateur wat ‘n reuse rol gespeel het in die onlangse herlewing van Naka Bulle. Beukes is ook ‘n gesoute rugbyadministrateur wat amateurrugby al op elke moontlike vlak gedien het in sy lang loopbaan. Moila is ’n veteraan wat die ontwikkelingsklubs jare lank al op verskeie vlakke dien, terwyl Groenewald waarskynlik die mees ervare opleier van afrigters in Suid-Afrika is.
Volgens aanduidings sal ’n nuwe era in klubrugby volgende jaar ingeluit word, waarin die senior Carltonliga klubs waarskynlik oor provinsiale grense sal meeding en ander ligas ook geherstruktureer gaan word.
Die Limpopo streek kies ook ’n adjunk president, terwyl hulle vyf vise-presidente tot die Blou Bulle se UK bydra. Dié komitee is ook verlede week verkies en slegs een nuwe vise-presidente is daar ingestem. Hy is Gystav Grobler, wat die skole in die Limpopo streek verteenwoordig.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:





