Local sportSport

Polisie-offisier van Pretoria katrol die groot visse in

‘n Polisie-offisier van Pretoria woon haar lewe lank nog in die binneland, maar sy is tans amptelik Suid-Afrika se beste vroue rots- en strand hengelaar.

Riana Vermaak word tans beskou as Suid-Afrika se beste vroulike rots- en strand hengelaar. Die merkwaardige aspek van hierdie feit is dat dié vriendelike kaptein in die Suid-Afrikaanse Polisiediens haar lewe lank nog ‘n Pretorianer is.

Vermaak was deel van die Suid-Afrikaanse vrouespan wat onlangs in Langebaan aan die Weskus aan die Fips-M styl strandhengel wêreldkampioenskap deelgeneem het. Sy het algeheel tiende geëindig, maar was die beste presteerder in die Protea-span.

Nog ’n interessante feit wat Vermaak se prestasie in perspektief stel is dat sy eers sowat 15 jaar gelede aan hengel as sport begin deelneem het.

Nadat sy aan die Hoërskool FH Odendaal in Pretoria gematrikuleer het, het Vermaak by die Polisiediens aangesluit, waar sy aanvanklik as pluimbalspeler uitgeblink het.

Eers nadat sy met haar man, Jan, getroud is het die hengelgogga haar gebyt. Hy is ‘n gewese Springbok varswater hengelaar wat in hengelgeledere algemeen bekend is as “Jan Jas”.

Jan het sy vrou eers touwys gemaak in varswater hengel langs die damme van Suid-Afrika se binneland en in 2011 het sy vir die eerste keer onder sy leiding ook begin strandhengel. Riana het egter gou in die sport begin uitblink en daardie selfde jaar is sy met provinsiale kleure beloon.

Drie jaar later, in 2014, het Riana die eerste keer internasionaal deelgeneem toe sy vir die Suid-Afrikaanse presidentspan by die bekende Gus Kohler toernooi teen Namibië gehengel het.

Daarna het sy van krag tot krag gegaan en jaarliks besonder goed presteer by die South African Shore Angling Association (SASAA) se nasionale kampioenskap. Verlede jaar het sy weer vir Suid-Afrika aan die Gus Kohler toernooi deelgeneem en vanjaar is sy vir die eerste keer met vol Protea kleure beloon vir haar prestasies.

Vermaak hou ook verkeie nasionale en provinsiale rekords as strandhengelaar. Sy is die Suid-Afrikaanse vrou wat tot dusver die grootste St Joseph vis (in die volksmond bekend as die Olifantvis) kon inkatrol. Dié knewel van 86cm, wat ongeveer 5kg geweeg het, het sy by Gamtoos in die Oos-Kaap gevang.

Sy het ook ‘n Duckbill Ray met ‘n vlerkspan van 182cm by St Francis in die Oos-Kaap uitgetrek en vertel trots dat sy vir drie uur en 48 minute met dié knewel moes veg om hom op die strand te kry.

In Rots- en Strandhengel kompetisies word deelnemers se aas aan hulle verskaf deur die organiseerders. Daar word ook ‘n afgekampte gebied van sowat 20 meter aan elke hengelaar aangewys waarbinne hulle vir die vier ure wat die kompetisie duur moet hengel. Met hierdie gelykmakende faktore in ag geneem, wat is dus Vermaak se geheim tot haar sukses?

“Hoewel jou aas verskaf word, kan jy steeds self die kombinasie kies, wat nogal ‘n verskil kan maak,” het sy aan Rekord vertel.

“Jan het my ook geleer om die see te kan ‘lees’. Jou kennis van die water maak ‘n groot verskil. Dan het ek ook ‘n goeie tegniek ontwikkel en ek kry dit nogal reg om my lyn verder as die meeste ander vrouens te kan ingooi,” het sy verder verduidelik.

Vermaak vertel dat hengel vir haar die ideale sport is om van haar werkstres as forensiese spesialis in die Polisiediens ontslae te raak. Sy en Jan hengel gereeld vir varswatervis langs die damme rondom Pretoria. Trouens, hengel is ook vir dié ouers van vyf seuns en grootouers van vyf kleinseuns ‘n stokperdjie waarvan die hele familie deel kan wees. Een van Riana se seuns, Barend Booyse, het self nasionale kleure verwerf as varswater hengelaar.

Ten spyte van haar sukses tot dusver droom Vermaak steeds groot oor haar loopbaan as hengelaar. Haar volgende doelwit is om by die nasionale kampioenskap, wat in Maart volgende jaar in Langebaan gehou word, weer goed genoeg te presteer om die nasionale span te haal. Dit sal haar in staat stel om by 2018 se wêreldkampioenskap in Wallis te gaan hengel.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button