Nuwe era kom vir klubrugby in 2018
Nuwe strukture en groter ligas word tans beplan om nie net die Blou Bulle se klubrugby te verbeter nie, maar spel op dié vlak ook by buurprovinsies te bevorder.
Die struktuur van klubrugby sal volgens alle aanduidings in 2018 dramaties verander – nie net in Pretoria vir klubs onder die jurisdiksie van die Blou Bulle nie, maar waarskynlik ook vir klubs van buurprovinsies.
Hierdie gevolgtrekking kan gemaak word na aanleiding van onthullings deur die Blou Bulle Rugby-Unie se adjunk-president, Henry Adendorff, by verlede week se meriete-toekenningsaand van die unie.
Die toekenningsaand het deel gevorm van G-TV se rugbyprogram, Skop en Skrum, wat regstreeks op Facebook en YouTube uitgesaai is. Adendorff het as gas op die program opgetree en toe hy deur die aanbieders uitgevra is oor die moontlike veranderings vir klubrugby in die toekoms, het hy erken dat daar tans gewerk word aan ’n nuwe model om klub- en amateurrugby se strukture aan te pas by die veranderings wat in die afgelope paar seisoene plaasgevind het.
Adendorff het erken dat omstandighede die bestuur van die Blou Bulle byna dwing om hande te vat met klubs uit unies soos die Valke, Limpopo Blou Bulle en Luiperds om ’n nuwe superliga op die been te bring waarin daar oor die grense van provinsies op semi-professionele wyse gekompeteer kan word.
Volgens alle aanduidings sal slegs vier klubs uit die Blou Bulle se jurisdiksiegebied (basies die Tshwane Metro area en Brits) volgende jaar op ‘n krag-teen krag basies in die Carltonbeker toernooi kan kompeteer. Voeg hierby Rustenburg Impala, wat vanjaar reeds amptelik deel was van die Carltonliga, en daar bly net vyf klubs oor in die boonste liga. Dit beteken slegs agt wedstryde per klub tydens ‘n dubbel-rondte, waarna net een deelnemer sal uitval vir die halfeindrondte. Volgens Adendorff is só ‘n liga nie bevorderlik vir klubrugby nie en daar sal dus gekyk moet word na ‘n superliga oor die grense van provinsiale unies, waarby sterk klubs betrek kan word.
Op hierdie stadium lyk dit dus of Quins-Bobbies (QBR), Tukkies, Centurion en Naka Bulle uit Pretoria by so ‘n nuwe liga betrokke sal wees. Vier top klubs van die Valke Rugby-Unie (Oos-Rand) het blykbaar reeds aangedui dat hulle sou belangstel om deel van die nuwe Superliga te wees. Rustenburg Impala uit die geledere van die Luiperds sal die negende klub wees, terwyl die Limpopo Blou Bulle se kampioenspan, Northam Rhinos, wat goeie rekenskap van hulself gegee het in die nasionale Gouebeker klubkampioenskap, die tiende klub behoort te wees in die liga.
Volgens Adendorff sal die Carltonbeker kampioen dan jaarliks bepaal word deur die Superliga se punteleer, wat impliseer dat die klub uit Pretoria wat in die hoogste posisie op dié punteeer eindig, as die Carltonbeker wenner aangewys sal word.
Die plan is oënskynlik om dan die standaard van plaaslike klubrugby te probeer opbou deur ‘n nuwe liga te skep op ‘n vlak net onder die semi-professionele superliga. Hierin sal die vier plaaslike Carltonbekerklubs, asook Rustenburg Impala en die Northam Rhinos van Limpopo se tweedespanne teen die bestes van vier ander klubs speel. Die Dragons, wat vanjaar gesukkel het in die Carltonliga en op eie versoek hul status prysgee, sal saam met drie klubs uit vanjaar se Carlton B-liga (voorheen die Eersteliga) deel van hierdie nuwe liga vorm. Tans lyk dit of TUT, Korrektiewe Dienste en die Grizzlies van Tuine die ander drie spanne sal wees. Hierdie tien spanne sal dan in ‘n dubbel-rondte vir die Lukas Strachan trofee kompeteer.
Die oorblywende klubs, wat insluit die res van die Carlton-B liga klubs, asook die bestes uit die Carlton C-liga (voorheen die Presidentsliga), sal dan in ‘n nuwe liga op die derde vlak kompeteer.
Adendorff het dit duidelik gemaak dat hierdie verwikkelinge nog in die beplanning stadium is en dat niks nog gefinaliseer is nie. Hy het egter beklemtoon dat iets gedoen moet word om die klubstrukture te herskep om nie net nuwe belangstelling na klubrugby te bring nie, maar ook om ‘n krag-teen-krag stelsel te verseker, wat klubrugby se oorlewing kan aanhelp.
https://www.facebook.com/GrizzliesTV/videos/1923360577681360/
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
