Puik atletiek by Abrie van Staden byeenkoms ten spyte van nat baan
Selfs ’n nat baan in die Pilditch atletiekstadion kon nie keer dat uitstaande vertonings aan die orde van die dag was by Hoërskool Garsfontein se jaarlikse Abrie van Standen Atletiekbyeenkoms nie.
Ten spyte van onderbrekings weens reën het die Hoërskool Garsfontein se jaarlikse Abrie van Staden Atletiekbyeenkoms weer puik prestasies opgelewer.
Spog atletiekskole vanoor die hele Gauteng, sowel as vanuit Noordwes, het Vrydagaand na die Pilditch stadion in Pretoria-Wes opgeruk vir die byeekoms. Saam met die gasheerskool was daar deelnemers uit Pretoria soos Oos-Moot en Uitsig asook Prestige College van Hammanskraal, terwyl Dr. EG Jansen uit die Oos-Rand, Helpmekaar uit Johannesburg, Transvalia uit die Vaalrdriehoek en Rustenburg uit Noordwes die ander gaste uitgemaak het.
Hoewel die seisoen nog jonk is en ten spyte van die gure weer het verskeie byeenkomsrekords in die slag gebly. Die twee uitstaande sterre van die byeenkoms was Danae Janse van Rensburg van Oos-Moot en Marco Pretorius van Transvalia.
Dié twee atlete het albei prestasies gelewer wat 1200 punte op die bekende ABSA-tabel werd is. Janse van Rensburg het die gewigstoot vir meisies onder 17 met ’n rekord afstand van 15,95m gewen. Sy het ook in die spiesgooi ’n nuwe rekord opgestel. Haar afstand van 45,08m was 954 punte op die ABSA tabel werd.
Pretorius het die diskus 54,05 meter ver gegooi om dié item vir seuns onder 14 met ’n nuwe rekord afstand te wen.
Nog agt atlete het prestasies behaal wat meer as 1000 punte op die ABSA tabel werd was.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:


















